Die Britse besetting van die Kaap in 1795 lui ’n tyd van groter godsdiensvryheid in met die bekendstelling van vele nuwe denominasies. Albert Geldenhuys skryf oor die eerste kerkgeboue ten ooste en noorde van die Kaap.
Waar is die eerste kerkgeboue opgerig buite die Kaap se grense? Streng gesproke was dit seker die kerke in Swellendam, Malmesbury, Tulbagh en Graaff-Reinett. Miskien moet ’n mens eerder fokus op kerkgeboue wat opgerig is ná die Britse oorname van die Kaap.
Die vroeë Kaapse kerke was meestal gebaseer op die sentraalbou-styl, met ’n Griekse kruisvorm soos die preekkerke van Nederland. Eerstens was die Kaapse Kerk in wese ’n staatskerk in ooreenstemming met die aanvaarde beginsel van die tyd van cuius regio, eius religio (wie se ryk, hul godsdiens).
’n Tweede, praktiese aspek was egter dat dit makliker was om kruisvormige geboue te bou as ronde, vierkantige of agthoekige geboue, veral met grasdakke. Die kruisvorm was baie soortgelyk aan die I-, T-, U- en H-vormige boustrukture van die Kaaps-Hollandse plaasopstalle. Kaapse bouers was minder gesofistikeerd as hul Europese eweknieë en toegang tot gehalte-boumateriaal, veral lang houtbalke, was beperk.
Sulke uitlegte was uiteraard nie optimaal vir sentraalbou-kerke, met hul fokus op die liturgiese sentrum, die kansel en dus verkondiging van die Woord, nie. Die kruisarms was meestal te lank en nou. Die preekkerk het tog, ten spyte van praktiese gebreke, vir meer as ’n eeu die dominante ontwerpstyl van Kaapse kerke gebly.
In die paar gevalle waar kerkgeboue in ander style gebou is, was dit gewoonlik weens praktiese redes. Voorbeelde sluit in ’n skuur wat later in ’n kerk omskep is – of kerke wat haastig opgerig is vir nuwe gemeentes met baie beperkte middele.
Die meeste van hierdie geboue was gou te klein, of het onstabiel geword, en moes vervang word deur beter ontwerpte en behoorlik geboude kerke. Sommige saalkerke van meer blywende gehalte is later omskep in kruiskerke deur die toevoeging van sybeuke, soos die eerste NG kerke in Franschhoek, Somerset-Wes, Wellington en Wynberg.
Groter godsdiensvryheid
Die Britte het in 1795, ná die Slag van Muizenberg, die Kaap beset en die bewind van die VOC het geëindig. Kort daarna, in 1803, het die Britte die kolonie aan die Bataafse regering oorgegee, net om dit in 1806 aan die begin van die Napoleontiese oorloë weer te annekseer ten einde die Kaapse seeroete te beheer.
Dit lui ’n tyd van groter godsdiensvryheid in met die bekendstelling van nuwe denominasies, soos Ierse Katolieke, Engelse Anglikane en Skotse Presbiteriane. Die nuwe denominasies het hul eie kerkgeboue vereis en hul ontwerpe is meestal beïnvloed deur Skotse, Ierse of Engelse priesters, pastore, bouers en argitekte.
Die eerste kerkgeboue van die 19de eeu het egter nog Kaaps-Hollands gebly.
Caledon se gemeente is in 1811 gestig as die agtste Kaapse gemeente. Aanvanklik is daar kerk gehou in ’n wynkelder van die plaasopstal waar die leraar, ds. Michiel C. de Vos, gebly het. ’n Behoorlike T-vormige Kaaps-Hollandse gebou word opgerig en op Nuwejaarsdag van 1813 ingewy.
Begin van ’n oorgang na Kaaps-Goties
In 1819, dieselfde jaar as die stigting van Somerset-Wes as die negende Kaapse gemeente, rig hulle ’n reghoekige gebou op van 24 m by 14 m. Dit word in ’n storm beskadig en word in ’n kruisvorm herbou. ’n Tekening van George F. Angas rondom 1849 toon die kruisvorm aan. Die gebou word in 1860 verbou tot sy huidige vorm.
Dit staan tans midde in ’n groot taxistaanplek. Dit word benut deur die Nuwe Apostoliese Kerk, maar word steeds besit en in stand gehou deur die NGK Somerset-Wes. Louis Steyn, my argitekvriend, wat al vir jare betrokke is by die bewaring van die gebou, gaan neem foto’s op ’n Sondagoggend.
Die Cradock-gemeente van die Kaapse Kerk het in 1824 ’n kerk laat bou. Die enigste rekord daarvan is ’n skets deur Thomas Bain. Dit was ’n grasdak-gewelgebou, met ’n Griekse kruisontwerp, met taamlike lang arms en Gotiese vensters. Dit was die begin van ’n oorgang na Kaaps-Goties.
Worcester se gemeente is in 1821 gestig. In 1832 bou hulle ’n kruisvormige kerk met ongelyke arms en ’n stomp toring, waarskynlik ontwerp deur Charles Trappes. Die vensters was neo-Goties. In 1896 ontwerp Charles Freeman ’n spitstoring. Die toring word in 1905 deur ’n stormwind omgewaai. Dit is herbou tot sy oorspronklike stomp vorm. In 1927 is Wynand H. Louw gevra om die huidige hoër toring te ontwerp nadat die ou een onstabiel geword het.
Skotse dominees
Kort ná die tweede Britse besetting van die Kaap, het Lord Charles Somerset, die nuwe goewerneur, begin om die Kaap te verengels deur onder meer verskeie Skotse Presbiteriaanse dominees in te voer. Die meeste van hulle het eers Nederlands geleer voordat hulle na die Kaap gekom het en baie het gou die guns van die burgers gevind.
Binne 30 jaar was meer as die helfte van die dominees van die Kaapse Sinode Skots. In 1820 land die Britse Setlaars, onder leiding van Thomas Pringle, aan die Kaap en vestig meestal aan die Oostelike front.
Die eerste Presbiteriaanse kerk in die Oos-Kaap is in 1828 in Glen Lynden opgerig, ’n eenvoudige T-vorm met klipmure en interessante stutmure. Dit is deur die Presbiteriaanse en Kaapse Kerke benut. Die St. Andrew Presbiteriaanse kerk, wat tussen 1827 en 1829 in Kaapstad opgerig is, is ontwerp deur Skirrow en Reveley en gebou deur Herman Schutte. (Die eerste Anglikaanse kerk in SA is eers in 1834 gebou – die St. George-katedraal se voorganger.)
Die kerkgebou in Uitenhage (tans Kariega) was waarskynlik die eerste wat die Skotse invloed op NG kerk-argitektuur toon. Die tiende gemeente van die Kaapse Kerk, wat in 1817 gestig is, het gou ’n kerkhuis gehad. Konstruksie van ’n eerste kerkgebou, gebaseer op planne van 1818, word lank vertraag weens regsgeskille. Die kerk word eers in 1843 opgerig as ’n langwerpige gebou met ’n toring aan die lang sy wat ook as ingang dien. Die argitek is onbekend.
’n Skotse dominee Alexander Smith het die gemeente van 1823 tot 1863 gedien. Die gebou bestaan steeds en dien as kerksaal nadat ’n groot nuwe kerkgebou, ontwerp deur Wynand H. Louw, in 1927 opgerig is.
Groot Trek
Die nuwe Britse bewind het ’n proses van progressiewe sosio-ekonomiese hervorming begin deur slawe-arbeid uit te roei om ’n vryemark-ekonomie te bevorder. Slawerny is in 1834 amptelik afgeskaf.
In 1828 het die Khoi-San gelykheid voor die wet gekry. Die Kaapse Kerk het op hul sinode in 1829 besluit dat rasseskeiding nie in die kerk geduld sou word nie. Op die oostelike grens van die Kaapkolonie is nege grensoorloë gevoer. Grensboere is opgeroep vir onbetaalde militêre diens.
Hulle is slegs van kos en ammunisie voorsien en moes hul eie perde gebruik, terwyl die Britse en Khoi-San soldate ’n volle militêre loon betaal is. Die boere se gesinne moes sonder enige vorm van beskerming op die plase agterbly. Dit het veroorsaak dat die grensboere in hul geboorteland toenemend vervreemd gevoel het. Die verenigende faktore vir hierdie boere – van Nederlandse, Duitse en Franse oorsprong – was hul Calvinistiese godsdienstige uitkyk, sowel as hul gemeenskaplike taal, ’n gelokaliseerde vorm van Nederlands.
Die gedeelde frustrasie van baie boere het gelei tot ’n uittog van groot omvang, toe tussen 12 000 en 15 000 mense die Kaapkolonie verlaat het om noordwaarts te trek in hul strewe na onafhanklikheid.
Die Groot Trek van die Voortrekkers het laat in 1835 begin. Die Voortrekkers was nomades wat sterk geïdentifiseer het met die Israeliete se uittog uit Egipte.
Bloedrivier
Geen dominee van die Kaapse Kerk was bereid om die Voortrekker-kerk op ’n permanente basis te dien nie. Daniel Lindley, ’n Amerikaanse sendeling wat in hierdie tyd in Natal (die huidige KwaZulu-Natal) gewerk het, het geroepe gevoel om die groep te dien wat deur die gebied getrek het.
Kerkdienste is in die buitelug langs die seilbedekte ossewaens van die Voortrekkers gehou. Voor die Slag van Bloedrivier het Sarel Cilliers belowe om ’n kerk te laat bou om hul verwagte oorwinning te herdenk. Gou was daar ’n behoefte aan kerkgeboue buite die grense van die Kaapkolonie.
Die eerste gemeente wat buite die Britse Kaapkolonie gestig is, was dié in Pietermaritzburg in 1939, in die destydse Republiek van Natalia (wat Natal, Transvaal en die Noord-Vrystaat ingesluit het). Die eerste tydelike kerkgebou word Rietkerk genoem – waarskynlik gemaak van riete.
’n Behoorlike kerkgebou, die Geloftekerk, ’n eenvoudige langwerpige gebou, word in 1841 ingewy. In 1861 word ’n nuwe kerk op ’n aangrensende eiendom gebou en die ou gebou as skool en winkel gebruik. In 1912 word dit herbou met nuwe Kaaps-Hollandse gewels om as Voortrekker-museum gebruik te word.
Die eerste gemeente in die Noord-Vrystaat is in 1841 in Winburg gestig. Die eerste gebou (datum onbekend, maar waarskynlik middel 1840’s) was in die neo-Gotiese styl in die vorm van die Griekse kruis. Die ander vroeë kerkgeboue in die streek was in Bloemfontein, Fauresmith en Smithfield.
Vele kerkdenominasies
Die eerste gemeente in die Transvaal-streek is in 1842 in Potchefstroom gestig. Die eerste kerkgebou, met ’n T-vorm, word op 19 April 1851 ingewy. Dit word tot 1865 gebruik.
Op 9 Augustus 1853 het die Transvaalse Kerk van die Kaapse Kerk losgebreek. Dit word op 12 November deur die Volksraad bevestig, maar die naam Nederduitsch Hervormde Kerk word eers in die 1858 ZAR Grondwet bevestig.
’n Sekere faksie van die kerk (onder meer Hartebeestfontein se gemeente) besluit egter om nie weg te breek nie en bly deel van die Kaapse Kerk. (Die Kaapse sinode van 1842 verander hul naam na Nederduitsche Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika.)
Ná ’n hoeksteenlegging op 26 Desember 1859 is die Hervormde Kerk se nuwe Griekse kruiskerk in Potchefstroom uiteindelik op 25 Februarie 1866 ingewy. In 1892 is dit verbeter met galerye, ’n plafon en ’n plankvloer. Dit is die oudste bestaande kerkgebou in die noordelike deel van Suid-Afrika.
Nog ’n denominasie, De Gereformeerde Kerk in ZAR, is in 1859 in Rustenburg gestig. Hul eerste amptelike vergadering was op 17 April 1863 in Potchefstroom. Op 12 Januarie 1867 word ’n saal-tipe neo-Gotiese kerk in Potchefstroom ingewy.
’n Tweede groter saal-tipe neo-Gotiese kerk is in 1897 gebou en die huidige kappiekerk-styl word in 1959 gebou.
Die NGK Potchefstroom bou iewers rondom 1869 ’n nuwe kerkgebou. Daarvan kon ek nog geen beskrywing of uitbeelding vind nie. Die NGK het in 1889 met die Hervormde Kerk herenig om die Nederduitsche Hervormde of Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika te word, net om weer te skeur.
Op 13 Februarie 1894 lê Paul Kruger die hoeksteen van die huidige NG Kerk, in ’n neo-Gotiese styl gebou. Die gebou brand in 2007 af, maar word herbou en weer in 2011 in gebruik geneem.
Eenheid van troon en altaar
Inderdaad ’n moeilike en half onverstaanbare geskiedenis van kerkeenheid en verdeeldheid. Ek doen tydens 2025 se Woordfees verdere navorsing oor hierdie tydperk by die NGK Argief, maar die volle storie bly my ontwyk. Die Hervormde en NG Kerke se weergawes stem nie oral mooi ooreen nie. Ironies word Hervormd en Gereformeerd albei as “Reformed” vertaal.
Die Voortrekkers het daarna gestreef om hul kultuur deur hul godsdiens en die stigting van gemeentes te bevorder. Kerkbou was hul mees sigbare kulturele simbool en het hul beskawingsbeskouing geanker.
Vir my bly dit ironies, vreemd en teenstrydig dat die Voortrekkers, wat ten alle koste wou wegkom van Britse heerskappy, die heersende imperiale neo-Gotiese argitektuurstyl saam op trek geneem het. Dalk was daar eenvoudige praktiese redes – soos dat die enigste beskikbare vensterrame Britse produkte was.
Die Britte het immers ná die Industriële Rewolusie hul fabrieksprodukte met ywer na al hul kolonies uitgevoer. Die Kanadees Carman Miller beskryf Britse imperialisme as “the union of throne and altar, the confusion of Pax Britannica and Pax Christi”.
Sy landgenoot Robert Page sê “imperialism was merely the secular arm of Christian expansionism”. Selfs die Voortrekkers kon nie hieraan ontsnap nie – en hul eerste kerkgeboue het die merke daarvan gedra.
• Geldenhuys is ’n siviele ingenieur, ten tyde van sy aftrede besturende direkteur van Aurecon Suid-Afrika en direkteur van Aurecon Global PL, in Melbourne gebaseer. Daarna was hy medestigter van Marche Media.









