Toets

Kort skote: Woordfees

Nina Callaghan in ’n toneel uit ‘An Apprentice of Sorrow’, wat by die Toyota Stellenbosch Woordfees opgevoer is.
Nina Callaghan in ’n toneel uit ‘An Apprentice of Sorrow’, wat by die Toyota Stellenbosch Woordfees opgevoer is. (Foto: Jaco Marais)

Komedie: Algemene Kennis. Met Theunis Strydom en Johan Joubert. Regisseur Corné Koegelenberg.

Dit verg sekerlik senuwees van staal om aan ’n vasvraprogram deel te neem. As daar ’n miljoen op die spel is, soveel te meer.

In die komedievertoning Algemene Kennis moet Theunis Strydom daardie grysstof inspan en als uithaal om die vrae korrek te beantwoord – van die vrae is effe belaglik, ander is kopkrappers. Strydom verloor nie sy koelkop nie – al is die vrae benede sy “waardigheid” as flinkdinker en skrywer van boeke.

Tog sluip ander uitdagings in. Die aanbieder, vertolk deur Johan Joubert, is daarop uit om die spanning aan te dik, want hy moet vermaaklike televisie skep. Hy karnuffel Strydom sielkundig, die twee raak kriewelrig met mekaar. Tussendeur spring die regisseur, vertolk deur Corné Koegelenberg, agter die gordyn uit om die vrede te bewaar en die program te laat vlot – maar is hy nie ook met sinistere speletjies besig nie? Strydom het darem ’n paar reddingsboeie, soos die oproep aan sy pa en ma, wat die gehoor laat skater het.

’n Miljoen is baie geld om sommer netso weg te gee. Dalk is die netwerk kop in een mus met die aanbieder en regisseur?

Algemene kennis is heerlike vermaak, opgestel soos ’n vasvraprogram op televisie. Dit is geskryf, geregisseer en vervaardig deur Koegelenberg (skrywer van die televisieprente Eksie Perfeksie en Valentynssokkie) en is ’n gawe verposing tussen die fees se grofgeskut op die teaterprogram. Algemene kennis word op 16 Oktober om 14:30 opgevoer.

Drama: An Apprentice of Sorrow. Met Sara Matchett en Nina Callaghan. Regisseur: Lwanda Sindaphi. Skrywers Sara Matchett, Nina Callaghan en T.S. Eliot.

In die aangrypende teaterstuk An Apprentice of Sorrow, word die digkuns van T.S. Eliot geprojekteerde visuele kuns sinryk vervleg met die vertolkings van Sara Matchett en Nina Callaghan. Dit is ’n salwende teaterervaring in teks en uitvoering. In hoofsaak handel dit oor demensie en die hantering daarvan deur die geliefdes van die demensielyer. Die ontstellende en ingrypende gegewe op persoonlike vlak word verbind met die doodsnikke van die natuur en die planeet wat die mens se enigste woning is. Genoeg rede vir mens om in sak en as te laat sit? Die teaterskeppers het ’n ander voorstel – hulle daag die gehoor uit en verskerp jou fokus op die mag en krag wat jy wel het – ontwaak, lê bande met jou medemens en transformeer jou onmiddellike omgewing.

Die verhoog is met rommel besaai. Eers dink jy dit is gewone rommel dan besef jy dit is die huis wat ’n geliefde agtergelaat het. Dit kan ook dui op die stand van die planeet wat versink en verstik in die mens se uitskot.

Matchett is verbonde aan die Universiteit Kaapstad se sentrum vir teater, dans en uitvoerende kunste en Callaghan is ’n navorser verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Volhoubaarheid (CST).

Dit blyk albei het geliefdes aan demensie afgestaan – in teer oomblikke tree hulle weer in gesprek met hul geliefdes. Herinneringe word gedeel van toe die ouer nog aanwesig was.

Die teaterstuk kom uit die hart en verstand. Dit is ’n mengsel van ekofeminisme, die sielkunde van sterwensbegeleiding, poësie en skep ’n diep meditasie oor menswees en dit wat jy wel nog met jou hart en hande op die planeet kán regkry.