’n Vroulike student aan die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) is dood en nog ’n vroulike student is beseer nadat hulle tydens ’n inbraak by ’n studenteverblyfplek buite die kampus aangeval is.
Universiteitsowerhede sê hulle is “geskok en diep bedroef” oor die tragiese voorval wat Maandagaand buite die kampus in Summerstrand gebeur het.
“Studente is aangeval tydens ’n inbraak by ’n koshuis, wat gelei het tot die dood van een van ons studente, terwyl ’n ander beserings opgedoen het en mediese sorg ontvang,” lui ’n verklaring deur die universiteit.
Die polisie in Humewood sê hulle het ’n soektog van stapel gestuur na ’n manlike verdagte, vermoedelik in sy 20’s, nadat hy na bewering ’n student (23) vermoor en ’n ander beseer het tydens ’n huisroof in Summerstrand Maandag omstreeks 19:15.
Volgens die polisie het ’n onbekende manlike verdagte gewapen met ’n mes die studentekoshuis in Admirality-weg, Summerstrand, betree.
Hy het na bewering die 23-jarige vrou gekonfronteer en haar begin steek toe sy geskree het, lui die verklaring deur die polisie.
Nog ’n 20-jarige vrou is ook tydens die voorval gesteek.
Die verdagte het van die toneel gevlug nadat hy twee selfone en ’n skootrekenaar gesteel het.
Die beseerde 20-jarige vrou is vir mediese hulp na ’n hospitaal geneem, maar die ander slagoffer (23) is op die toneel dood verklaar.
Enigiemand met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, word versoek om die ondersoekbeampte, speursers. Rudwaan Baatjies, by 073 130 3018 te bel of die Stop Misdaad-nommer, 08600 10111, te skakel.
Die universiteit het sy innige meegevoel betuig met die familie, vriende en medestudente van die student wat dood is, en het die beseerde student ’n volle en spoedige herstel toegewens.
Berading en ander psigososiale ondersteuning is deur die universiteit se Emthonjeni Student Wellness-eenheid aan geraakte studente beskikbaar gestel.
Die South African Students Congress (Sasco) by die universiteit sê in ’n plasing op hul Facebook-blad hulle is diep gewalg deur die “sinnelose, gruwelike aanval deur ’n hartelose misdadiger”.
“Dit was nie ’n rooftog nie, maar pure dierlikheid in sy hoogste vorm. Summerstrand en alle koshuise buite die kampus het ’n paradys vir misdadigers geword,” lui die plasing.
“Ons het die universiteit al gewaarsku oor die gevare waaraan studente buite die kampus blootgestel is.”
Die plasing lui dat hulle by die hoofgebou van die Suid-kampus sal betoog om ’n memorandum van eise aan die universiteit en die polisie te oorhandig.
“Ons eis dat die 72-uur-plan geïmplementeer word en dat die oortreders aanspreeklik gehou word,” lui die plasing.
Die beginpunt van die optog is by Summerstrand Spar en eindig by die Suid-kampus in Embizweni.









