Twee mans is buite Giyani in Limpopo in hegtenis geneem nadat hulle Maandag glo beamptes van die Verkiesingskommissie (OVK), wat daar met 'n spesiale stemming besig was, oorrompel en van stembriewe beroof het.
Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die twee mans (onderskeidelik 30 en 35 jaar oud) sal later in die Giyani-landdroshof verskyn.
Hulle het glo die beamptes oorval wat na 'n huis in die Guwela-nedersetting is om 'n kieser te help om 'n spesiale stem uit te bring.



Stembriewe is aan flarde geskeur, maar niemand is beseer nie.
Bykomende polisielede is vir Woensdag se verkiesing in die Giyani-streek ontplooi.
Lt.genl. Nneke Ledwaba, polisiehoof in Limpopo, sê ontwrigtings sal nie geduld word nie en die polisie is gereed vir enige gebeurlikheid.
Inwoners van etlike klein nedersettings in die uitgestrekte landelike gebied van Giyani weier om te stem.
Betogings het sedert verlede week in die Ga-Sekgopo-gebied opgevlam. Die inwoners is kwaad omdat daar nie teerpaaie is nie en groot gebiede ook nie water het nie.
Mojapelo sê bykomende polisielede is ook in Vuwani, sowat 170 km noordoos van Polokwane, ontplooi.
Lede van die ProMakhado-aksiegroep weier om Woensdag te stem. Hulle is ontevrede omdat die munisipale grense van Vuwani met die munisipale verkiesing in 2016 verander is.
Vuwani val nou onder die Collins Chabane-munisipaliteit in Malamulele. Vuwani het eers onder die Makhado-munisipaliteit in Louis Trichardt geval.
Die inwoners het Dinsdag begin om paaie na Vuwani te versper en gaan 'n massavergadering hou waarop hul griewe bespreek sal word.
Arnold Mulaudzi, woordvoerder van die ProMakhado-aksiegroep, sê inwoners is keelvol vir die swak dienslewering. Hulle beplan om die gebied Dinsdag en Woensdag ontoeganklik te maak.
Grootskaalse geweld het in 2016 hier uitgebreek toe belhamels weens die ontevredenheid oor swak dienslewering meer as 20 skole aan die brand gesteek het.
Die inwoners het nie in die provinsiale verkiesing in 2016 gestem nie, maar eerder die dag sokker gespeel.

















