Woensdag stem die land in een van die mees vloeibare verkiesings nog. Gareth van Onselen sê wat ons kan verwag op grond van meningspeilings.

Die finale weke van 'n verkiesing is die mees vloeibare.
Histories konsolideer die groter partye - veral die ANC en die DA - hul aandeel van die stemme opwaarts, terwyl kleiner partye hul aandeel van die stemme verlaag. Verkiesingswaarnemers praat van die "squeeze", 'n aanduiding van die druk wat toegepas word op hiërargiese wyse van bo na onder.
Met net 'n paar dae tot stemdag toe is ons nou diep in die "squeeze". Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) publiseer môre sy finale meningspeiling voor die verkiesing. Dit is ontwerp om te meet wat met partye se steun in hierdie kritieke periode gebeur. So, wat kan ons verwag?
Kom ons begin met die ANC.
In die afgelope dekade het ons gesien dat die ANC in die laaste paar dae voor elke verkiesing sistematies DA-ondersteuners afrokkel.
Die potensiaal is daar dat die jagter in die Wes-Kaap die prooi word.
Die kwesbaarste deel van DA-ondersteuning was nuwe of potensiële swart kiesers. Die DA het die vermoë om vroeg in die veldtog swart kiesers tot hulle aangetrokke te maak, maar dan sal die ANC druk begin toepas.
"Kom huis toe," sal hul boodskap wees. En: "Die DA gaan apartheid terugbring." Dit het elke keer gewerk. Die DA se ondersteuning onder swart kiesers sal sistematies oor die finale twee weke voor die verkiesing wegkalwe.
Die DA het egter nie werklik hierdie probleem in dié verkiesing nie. Om te begin, is die party gedwing om daarop te fokus om sy kernondersteuningsbasis weer aan boord te kry ná 'n stormagtige twee of drie jaar - veral in die Wes-Kaap. So, daar is nie regtig so 'n groot groep nuwe swart potensiële DA-kiesers vir die ANC om af te rokkel nie. Tweedens, en belangriker, is daar die EFF wat veel meer probleme vir die ANC veroorsaak.
Die ANC en die EFF blyk gewikkel te wees in 'n uitputtingsoorlog om die steun van 5% tot 8% van vervreemde ANC-kiesers. Sedert September, toe die IRV die eerste van sy vyf verkiesingspeilings gedoen het, het hierdie baie spesifieke groep kiesers gedurig tussen die twee partye gewissel. As die ANC-steun opgaan, het die EFF-ondersteuning gedaal en omgekeerd.
Die ANC het aan die einde van verlede jaar die meeste van dié 5% tot 8% onder sy vaandel gekonsolideer. In Desember kon die ANC reken op soveel soos 60% steun op 'n lae stempersentasie. Maar toe kom beurtkrag en Bosasa en skielik was dié kiesers terug by die EFF. In April was die ANC op 51% en die EFF 14%.
Daar is ongetwyfeld belangrike redes waarom hierdie kiesers liewer die EFF as die DA kies. Dit is onduidelik presies wat hierdie redes is, maar die Suid-Afrikaanse politiek word gedefinieer deur die monolitiese greep wat die ANC so lank reeds op kiesers het. Dit is waarskynlik dat hulle die EFF sien as 'n nie-amptelike weergawe van die ANC wat die beste geplaas is om die ANC te hervorm sodat hulle daarheen kan terugkeer.
Die DA, daarenteen, het grootliks daarin geslaag om buite die ANC se heelal te werk, hoewel jy deesdae die idee kry dat ook hy nader aan die ANC ingesuig word.
Nietemin, as die ANC-squeezevanjaar enige party se steun gaan beïnvloed, gaan dit die EFF s'n wees. Hoe goed die EFF die druk gaan weerstaan, sal bepaal hoeveel van die 14%-steun wat hulle in April gehad het, hulle sal kan behou.
Dit gaan egter nie vir die ANC maklik wees nie. Die groter prentjie is dat ANC-steun aan die afneem is. In KwaZulu-Natal, die laaste dekade reeds die ruggraat van sy politieke steun, is daar tekens van probleme. In Desember het die IRV (op 'n lae stempersentasie) ANC-steun in KZN op slegs 54% gestel. As die nasionale tendense daar gerepliseer word, sal dit waarskynlik nog laer wees. En dit gaan sy werk soveel moeiliker maak.
Wat die DA betref, is daar gedurende die laaste paar weke vrugbare voedingsareas, veral in die Wes-Kaap. Daar het ons, in die nadraai van die DA se interne probleme, die opkoms van talle kleiner partye gesien. Die ACDP, die VF Plus, Good en selfs die EFF het almal 'n bietjie DA-steun afgerokkel.
In April het die DA op 51% in die Wes-Kaap gelê met 'n lae stempersentasie. Die ACDP was op 7%. Jy kan seker wees dat die DA nou genadeloos sy aandag daarop gaan vestig om die lewe uit die ACDP en ander kleiner partye te druk.
Wat die ANC in die Wes-Kaap betref, is daar iets wat die moeite werd is om dop te hou. Dit is nie net die provinsie waar die ANC histories die slegste vaar nie - die provinsiale strukture is al jare 'n katastrofiese gemors. Kan die jagter in die Wes-Kaap die prooi word as die DA sy aandag op die ANC vestig?
Daar is potensiaal hiervoor. Sedert April het ANC-steun aansienlik afgeneem in die Wes-Kaap. As dit voortduur, kan dit baie morsig raak.
So, net soos die ANC 'n goeie kans het om daardie vloeibare EFF-stemme in die laaste week terug te wen, kan jy verwag dat die DA dié kiesers wat vir kleiner partye in die Wes-Kaap wou stem, kan terugwen.
Nasionaal is daar egter minder om die DA te voed. Die party sal goed doen as hy op verkiesingsdag soveel moontlik van sy kiesers by die stembus kry en geringe groei toon, tot by 24% of dalk 25% - wat sy steunvlak in April was.
In Gauteng het die ANC sy poging tot baie laat gelos. In April was die ANC op 41% op 'n lae stempersentasie. Om daardie nege punte binne twee weke in te haal vir 'n algehele meerderheid sal 'n enorme taak wees. Hulle kan druk toepas op die EFF en ook, in 'n mate, op die DA. Die DA het 18% steun onder swart kiesers in Gauteng - vergeleke met sowat 7% nasionaal.
Maar as 2016 ons enigiets geleer het, was dit dat in stedelike sentrums soos Gauteng die verskuiwing weg van die ANC na die opposisie is. Dus sal dit hoogs onwaarskynlik wees dat die ANC daardie verlore grond sal kan inhaal.
Die DA het 'n soortgelyke probleem in Gauteng as wat dit nasionaal het: Daar is nie baie potensiële besluitlose kiesers wat hulle in die laaste twee weke kan oortuig nie. Die party se steun is nou al geruime tyd taamlik stewig rondom die middel tot hoër 30's gevestig op 'n lae stempersentasie.
Die ANC het die EFF wat hulle kan druk vir steun, maar die DA het nie regtig iemand nie. Hulle sal dus by besluitlose ANC-kiesers bly vlerksleep in die hoop dat hulle 'n paar ekstra stemme kan wen - hoofsaaklik om die ANC op onder 50% te hou. As hulle dit kan regkry, sal hul missie grotendeels suksesvol wees. As hulle egter dit regkry sonder enige groei van hul eie, is die saak meer debatteerbaar.
Die Noord-Kaap gaan baie interessant wees en die moeite werd om dop te hou. Dié provinsie is berug daarvoor dat dit baie moeilik is om daar akkurate meningspeilings te doen, en daar is dus geen sinvolle data oor moontlike stempatrone nie.
Maar ons weet wel dat daar groot groeipotensiaal vir die DA is. Dit is nie te sê dat die ANC daar sleg vaar nie. Die party staan sy man (die Noord-Kaap was in werklikheid slegs een van twee provinsies waar die ANC in 2014 gegroei het). Nietemin, die demografie en die nabyheid van die Wes-Kaap maak dit duidelik dat die DA steeds verder groei.
Hierdie verkiesing is een van die - indien nie dié - mees vloeibare nasionale verkiesings tot op hede. Sowel die ANC as die DA het toegekyk hoe hul steun om verskillende redes wipplank ry. Dit is ongetwyfeld 'n goeie ding. Te veel kiesers in Suid-Afrika is vasgevang in die mentaliteit van lewenslange steun vir 'n party.
Dit gaan nie noodwendig beteken dat daar ná Woensdag groot strukturele veranderinge in die land gaan plaasvind nie. Maar daar is tekens van lewe en verkiesingsvloeibaarheid daar buite. Die groter partye sal alles in hul vermoë doen om dit te keer - soos wat hulle moet - maar dit lyk of dit baie moeiliker is om dit te doen as op enige tydstip in die verlede. En dit is op sigself 'n baie interessante ontwikkeling.
- Gareth van Onselen is die hoof van politiek en regering by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge.














