Verkiesings 2019

ACDP het sy oog op die Wes-Kaap

Die African Christian Democratic Party (ACDP) wil die DA se greep op die Wes-Kaap in die verkiesing volgende maand verswak en van sy tradisionele steunbasis wegrokkel.

Die party het gister sy verkiesingsmanifes in Johannesburg bekend gestel. Sy leier, eerwaarde Kenneth Meshoe, het ná die bekendstelling gesê sy party fokus daarop om sy steun in die Wes-Kaap ten koste van die DA te vergroot.

"In die tussenverkiesing in Bonteheuwel het ons die DA se meerderheid met 20% verminder en het die ACDP se steun van 0,5% tot 20% toegeneem. So, ons is beslis besig om inbreuk te maak op die DA se steun. Baie van hulle (die nuwe ondersteuners) sê hulle neem die ACDP ernstig op, dat ons mense van integriteit is en dat hulle soek na politici wat hulle kan vertrou," sê Meshoe.

"Ons vaar ook goed in KwaZulu-Natal en Gauteng. Mense in die provinsies is op hul voete en sluit aan by die ACDP."

'n Verkiesingsopname deur die Instituut vir Rasse-verhoudinge het onlangs 'n moeilike verkiesing vir die DA op provinsiale vlak in voorspel. Daar is ook voorspel partye soos die ACDP en die VF Plus kan dit vir die DA maak of breek om sy meerderheid te behou of nie.

Die DA kan volgens die opname 50.1% van die stemme in die Wes-Kaap op hom trek, teenoor die 59.4% in die 2014-verkiesings.

Die ACDP kan 3.5% van die stemme, teenoor 1% in 2014 op hom verenig en die VF Plus 2.8%, teenoor 0,6% in 2015.

Ooreenkomste tussen die ACDP en die African Transformation Movement (ATM) wat ook sterk gegrond is in geloofsoortuigings

Eerwaarde Kenneth Meshoe by die ACDP se bekendstelling van sy manifes in Johannesburg. Foto: Bonolo Selebano
Eerwaarde Kenneth Meshoe by die ACDP se bekendstelling van sy manifes in Johannesburg. Foto: Bonolo Selebano

Meshoe het gesê daar is 'n duidelike onderskeid tussen die ACDP en die ATM en hy beskou dié party nie as 'n gevaar vir hulle nie.

"Nie in die minste nie, nie wat tradisionele stemgeregtigdes betref nie. Hulle weet dat iets soos 'n vertoningsgeskiedenis baie belangrik is in die politiek. Soverre dit die ACDP aangaan: Ons is veilig. Ons wens hulle (die ATM) die beste toe."

Dalton Adams, die ACDP se premierskandidaat in Gauteng

Adams het by die bekendstelling die ACDP se visie oor grondhervorming in die provinsie bespreek: Die provinsie se program om grond vinnig beskikbaar te stel het volgens hom nie aan die maatstawwe voldoen nie.

"Ons sien dit nie gebeur nie. Wanneer jy oor grond praat, oor grondverdeling, moet dit nie 'n sebra-kwessie, wit en swart wees nie.

"Daar is ander rasse wat in Gauteng bly wat moet voel dat hulle deel is van die beplanning oor wat in Gauteng moet gebeur," het Dalton gesê.

As premierskandidaat meen hy dat die woonstelle wat vir ruimtelike beplanning onder apartheid gebou is, afgebreek moet word.

"Ons mense moet in tydelike en geïntegreerde behuisingskemas geplaas word. Ons begroot so dat die begroting pro-arm, pro-behuising is."

Bonolo Selebano

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM