Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, sê lede van die nuwe kabinet moet nie volgens hul gewete gelei word nie, maar wel deur die ANC.
Magashule het Vrydag by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria gesê 'n voorlopige peiling toon die ANC gaan 57% van die nasionale stem wen.
"Ek sien uit daarna om mans en vroue wat hard werk en lojaal is aan Suid-Afrika, die Grondwet en die ANC, deel van die kabinet te hê," sê Magashule.
Volgens Magashule moet nuwe lede nie deur hul gewete gelei word nie, maar deur die ANC.
"Dit is immers die organisasie (ANC) wat jou daar gesit het."

Op die vraag of pres. Cyril Ramaphosa geloof kan word vir die ANC se oorwinning, sê Magashule: "Ramaphosa se naam is nie op die stembrief nie. Hy is deel van 'n groep.
"Cyril Ramaphosa is nie die organisasie nie. Cyril Ramaphosa het nie in enige verkiesing gestaan nie. Cyril Ramaphosa is deel van die ANC, moet hom nie afsonder van die ANC nie. Ek is ook nie die ANC nie."
Magashule is ook gevra oor Pieter-Louis Myburgh.
Myburgh het verlede maand 'n boek uitgereik wat handel oor Magashule, voormalige Vrystaatse premier, se beweerde aandeel in staatskaping.
"Ek glo nie 'n 27-jarige kan praat oor wat ek in die vryheidstryd gedoen het nie."
Myburgh is 34.
Volgens Magashule het Myburgh nie self die boek geskryf nie, maar "die waarheid sal aan die lig gebring word".
Magashule sê regstappe word teen Myburgh oorweeg.
"My gewete is skoon. Ek het niks verkeerds gedoen nie."
Mary Metcalfe, voormalige LUR vir onderwys, het in 'n twiet gereageer op Magashule se uitlating en sê: "Ek stem glad nie saam nie. Jou gewete moet jou altyd lei." - News24
















