Verkiesings 2019

DA se dae getel waar EFF help, sê Floyd

Die DA se dae is getel in al die munisipaliteite waar die EFF hom help om te regeer.

So het Floyd Shivambu, EFF-onderleier, Vrydag as deel van dié party se verkiesingsveldtog in Bloemendal in die Nelson Mandelabaai-metro gesê.

Floyd Shivambu, EFF-onderleier, praat Vrydagmiddag in Bloemendal in die Nelson Mandelabaai-metro. Foto: Cara-Lee Dorfling
Floyd Shivambu, EFF-onderleier, praat Vrydagmiddag in Bloemendal in die Nelson Mandelabaai-metro. Foto: Cara-Lee Dorfling

"Die DA moet oral verwyder word om te wys hulle is nie verkies om alleen te regeer nie. Hulle (die DA) moet leer om die mense te respekteer wat vir hulle die mag gee. Die EFF het mag oorgegee op voorwaarde dat daar na die belange van die armes omgesien word," het hy gesê.

"Met die plaaslike verkiesing in 2016 was die EFF slegs drie jaar oud. Sy fokus was toe om die party se strukture te vestig voordat hy beheer van 'n munisipaliteit oorneem.

"Maar nou is die EFF gereed om in munisipaliteite én oor die hele Suid-Afrika heen te regeer," het Shivambu gesê.

Hy het ook na die UDM se Mongamli Bobani, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, verwys as 'n "opsigter-burgemeester", wat volgens hom deur die EFF se toedoen veilig in dié amp gehou word.

"Ná die verkiesing sal ons dit herevalueer en ons sal dalk 'n EFF-burgemeester hier aanstel en dalk in Tshwane ook."

Hierop het die skare Shivambu toegejuig.

In sy toespraak het Shivambu ook benadruk dit is slegs die EFF wat vir grondonteiening sonder vergoeding baklei.

Hy meen pres. Cyril Ramaphosa gee voor om druk op die ANC uit te oefen oor grondonteiening, maar dink Ramaphosa sal dit nie deurvoer nie.

"Dit is net wanneer die EFF regeer dat mense grond sal kry."

Shivambu het aan die skare gesê 80% van Suid-Afrika se grond is in die besit van die "wit minderheid", en wanneer grond vir die bou van skole, huise of universiteite benodig word, moet die regering dit by die "wit minderheid" koop.

Benewens grond, is werkskepping vir die EFF 'n voorkeursaak, het Shivambu gesê.

"In Suid-Afrika soek 9 miljoen mense werk, want die ANC kan nie 'n ekonomie skep wat mense in diens neem nie.

"Die grootste tragedie is dat die ANC nie nou werk het nie en ook geen plan het om werk te skep nie."

Hy het verwys na die ANC se manifes wat lui dat gepoog sal word om 'n bykomende 275 000 werkgeleenthede per jaar te skep deur die plaaslike vraag na goedere te verhoog, meer in mynbou te belê, vervaardiging en landbou, asook om die uitvoermarkte te vergroot.

"Dit beteken in vyf jaar sal net minder as 1,4 miljoen werkgeleenthede geskep word vir die 9 miljoen mense wat werk soek. Wat van die res?"

Met dié EFF-saamtrek wat Vrydagmiddag in die hartjie van Port Elizabeth se bendegeteisterde gebied gehou is, het Shivambu ook beloof dat die EFF bendes sal uitroei wanneer hy aan die bewind is.

"Wanneer die EFF in beheer van die polisieminister is, sal bendes iets van die verlede wees. Dit lyk asof die polisie bang is vir bendes. Maar dit sal alles verander, ons sal die strate skoonmaak."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM