Die DA aanvaar dit glad nie as vanselfsprekend dat 'n meerderheid van Mitchells Plain se meer as 130 000 kiesers volgende week wéér vir dié party 'n reusemeerderheid sal gee nie.
Daarom, sê Alan Winde, die DA se premierskandidaat, werk hulle "dag en nag" om die Kaapse Vlakte blou te hou.
DA-steun in Mitchells Plain was altyd op 'n naaldpunt voor Patricia de Lille se Onafhanklike Demokrate (OD) in 2010 saamgesmelt het met die DA.

Voor 2010 het die DA 50,4% van die stemme daar getrek - daarna, meer as 65%. ANC-steun het gedaal van 22% tot 16%.
Dié keer werf De Lille, die vorige DA-burgemeester, egter stemme vir Good, haar nuwe party. Sy was al vier keer sedert Januarie in Mitchells Plain, waar baie bruin kiesers woon. "Ons het so hard gewerk om oor te neem (in die Wes-Kaap), ons kan nie nou bekostig om daardie werk ongedaan te maak nie," sê Winde, wat die afgelope week in die Karoo en Suid-Kaap stemme gewerf het.
Die DA het reeds in Januarie plakkate in die provinsie opgesit oor hul planne vir die polisie en treinstelsel. Die veldtog is sedertdien aansienlik verskerp.
Maandag is 'n reklamebord in die middestad opgerig waarin die DA die ANC vra wie sy premierskandidaat vir die Wes-Kaap is.
Dennis Cruywagen, ANC-woordvoerder in die Wes-Kaap, sê hulle gaan nie in 'n hoekie gedruk word en begin boks nie. "Die ANC benoem nie hul premierskandidate voor die tyd nie, want anders fokus kiesers nie meer op die party nie," sê hy.
Ebrahim Rasool, vorige Wes-Kaapse premier, lei die ANC se verkiesingsveldtog in die Wes-Kaap, maar is nie 'n premierskandidaat nie. Cruywagen reken Rasool het hoër aspirasies.
Rasool het Donderdag die media saam met Khaya Magaxa, waarnemende provinsiale voorsitter, en Faiez Jacobs, provinsiale sekretaris, toegespreek en gesê hy glo die ANC kan oorneem.
Cruywagen sê egter sy party "loop nie oor van selfvertroue" oor die Wes-Kaap nie, al is Ramaphosa hier gewild. "Hy is die teenoorgestelde van oudpres. (Jacob) Zuma," sê Cruywagen.
Oor staatskapers op die ANC-lys vra hy vir kiesers se geduld: "Ons is 'n regstaat. Daar word opgetree."
Winde vra hoe pleit jy vir geduld by families van die 1 579 mense wat sedert November 2018 in die provinsie vermoor is.
Die DA wil die polisie, wat tans onder beheer van die nasionale regering staan, op provinsiale vlak bestuur, waarvoor hy 'n tweederdemeerderheid in die parlement sal benodig om die Grondwet te wysig.
Winde erken dat dit onmoontlik is. "Ek gaan saam met ander premiers werk, en ek sal 'n pleidooi aan hulle rig. Ek sal selfs tot by die president gaan as dit nodig is."
Die Instituut vir Rasseverhoudinge se jongste peiling in Februarie het die DA se steun in die Wes-Kaap op 50,1% geskat. As DA-steun tot onder 50% daal, word 'n ANC-koalisie moontlik.
Cruywagen sê sy party sal nie saam met die EFF in die Wes-Kaap in die bed klim nie.
De Lille se Good sal dalk wel lêplek by die ANC kom soek.


















