
Vandag bespreek ek die kleiner partye se (ekonomiese) beleid. Ek ignoreer twak soos beloftes van "werkskepping" en "armoedeverligting" en probeer om dit wat 'n party anders maak, uit te lig.
Ter wille van deursigtigheid: Ek is nie 'n lid van 'n politieke party nie, het geen politieke aspirasies nie en ek probeer billik en redelik in my ontledings wees.
Die Inkatha Vryheidsparty (IVP) het 'n sosialistiese beleidsoortuiging. Ingrypings soos kleinsakeontwikkeling, ondersteuning van spesifieke sektore, staat- en privaatsektor-vennootskappe, die skep van 'n staatsbank, die daarstel van 'n "werkloosheidsregister", "laer" medisynepryse, hoër ouderdomspensioen en grondkonfiskering is van hul voorstelle.
Die idee om die debat oor die doodstraf te "open", dui op 'n party wat nie die Grondwet ten volle verstaan nie. Ek kry ook die idee dat Inkatha amper xenofobies is. Maar ek hou van die idee om die polisiemag te desentraliseer en die daarstel van spesialishowe, asook om onderwyskolleges weer in te stel.
Dis 'n oudmodiese sosialistiese party met 'n oordrewe klem op tradisionele leierskap.
Dit lyk of die verkiesingsmanifes van die Nasionale Vryheidsparty (NVP) deur skoolkinders geskryf is. Dis vol denkfoute en teenstrydighede. Die ideologie is 'n soort "tradisionalistiese sosialisme". Daar is tekens van xenofobie met groot klem op tradisionele leiers.
Heelparty voorstelle word gemaak, soos die afskaffing van arbeidsmakelaars, voorkeur aan sekere verskaffers, meer valutabeheer en subsidies, meer regulering van ongereguleerde beroepe, meer werkerbeskerming, halfhartige nasionalisering van die Reserwebank, laer invoerheffings (vreemd genoeg!), geen privatisering, amnestie aan skuldenaars (behalwe vir diegene wat onderhoud skuld), en meer beheer oor uitleners, subsidies aan die taxibedryf, en nog 'n spul ander belaglikhede.
Die NVP is verward en oningelig met geen duidelike ideologie nie.
Die United Democratic Movement is nóg vis nóg vlees. Anders as die meeste ander politieke partye gee hy wel aandag aan die benarde posisie van die staat se finansies met (verkeerde) voorstelle van laer BTW en hoër inkomstebelasting vir maatskappye. Dit lyk ook of hy sekere staatsbates wil privatiseer, maar is versigtig om dit prontuit te sê.
Die UDM besef die belangrikheid van beleidsekerheid en beklemtoon meriete as grondslag van die aanstelling van staatsamptenare. Dit klink of hy sektorspesifieke banke in staatsbesit tot stand wil bring. Daar is teenstrydighede oor te goedkoop immigrante-arbeid en lof vir die "bydrae" wat immigrante kan lewer.
Ek hou van die voorstelle om hindernisse vir ondernemings te verwyder. Hy is ook (versigtig) ten gunste van die beslaglegging van grond op 'n wyse wat by 'n indaba bepaal sal word. Klem word op infrastruktuurontwikkeling geplaas, en ondersteuning van tradisionele leiers gaan nie oorboord nie.
Die UDM-leierskap is duidelik 'n deurwinterde klomp wat weet hoe om die politieke speletjie te speel.
Die Vryheidsfront Plus wys die belangrikste ekonomiese kwessies korrek uit: swak groei, die staat se buitensporige salarisrekening, ons werkloosheidsramp, arbeidswetgewing, die oormatige belastinglas, die negatiewe uitwerking van swart ekonomiese bemagtiging, en meer.
Wat ietwat irriteer, is die gehamer op die negatiewe aspekte van rassediskriminasie, wat die indruk kan skep dat hy net belangstel in die regte van 'n enkele groep. Maar die voorstel om armoede as grondslag vir "bemagtiging" te gebruik, is goed. Verder voel ek ongemaklik wanneer godsdiens by politieke manifeste ingesleep word.
Maar dis die VF Plus se klem op ekonomiese groei wat hom van die kaf onderskei. Sy voorstelle om die ekonomie aan die groei te kry, is grootliks in die kol. Ek hou van die idee van subsidiariteit: dat besluitneming en politieke mag so na moontlik aan die individu afgewentel word, soortgelyk aan federalisme. Veral die ondersteuning van private eiendomsreg en die vrye mark geval my.
Heelwat goeie fiskale beleidsvoorstelle word gemaak, en die voorstel oor 'n fiskale kommissie is oorspronklik en opwindend. Daar is ander idees oor fiskale beleid, sommige goed en ander minder goed. Die voorgestelde afskaffing van die tolpaaie is pure populisme.
Ek verskil van hul idee om landbou teen mededinging te beskerm. Daar is ook 'n sweempie xenofobie te bespeur.
Die VF Plus is 'n vryemark- georiënteerde politieke party met 'n sterk klem op individuele en groepsregte, asook op private eiendomsreg.
- ¦
Dawie
Roodt
Libertyn



















