En die wenner van die meningspeilings is . . .

Die snelle verandering en kompleksiteit van die politieke landskap - sowel as sosiale media - maak dit al hoe moeiliker vir meningspeilings om die uitslae van verkiesings of ander groot politieke gebeure akkuraat te voorspel.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, het Maandag so gesê nadat verskillende marknavorsers se meningspeilings voor verlede week se verkiesings verskillende uitslae voorspel het.

Prof. André DuvenhageFoto: MARIETJIE GERICKE
Prof. André DuvenhageFoto: MARIETJIE GERICKE

Die ANC het uiteindelik gewen met 57,50% van die nasionale steun, terwyl die DA 20,77%, die EFF 10,79%, die IVP 3,38% en die VP Plus 2,38% gekry het.

Die naaste meningspeiling was dié van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) en die SAUK wat voorspel het dat die ANC 57,63% van die stemme op hom sou verenig, teenoor die DA se 20,96%, die EFF se 10,12%, die IVP se 3,53% en die VF Plus se 2,67%.

*Die Instituut vir Rasseverhoudinge het in sy finale peiling voorspel dat die ANC met 'n opkoms van 74,6% sowat 55%-steun sou kry, die DA 23% en die EFF 13%.

Die opkoms in vanjaar se verkiesings was 65,99%.

* Die marknavorsingsmaatskappy Ipsos het 'n dag voor die verkiesing voorspel dat die ANC met 'n opkoms van 64% sowat 60%-steun sou kry, die DA 17%, die EFF 10% en die VF Plus 1%.

* Voor dit het Citizen Surveys voorspel dat die ANC met 'n 77%-stemopkoms 61%-steun sou kry, die DA 19% en die EFF 11%.

Duvenhage sê hy het geen twyfel dat meningspeilings help om te verstaan wat "daar buite" aangaan nie.

Ebrahim FakirFoto: RAPPORT
Ebrahim FakirFoto: RAPPORT

"Maar in die laaste tyd waar daar met snelle verandering, kompleksiteit en sosiale media in die politieke landskap gewerk word, is dit baie moeilik om dit uit 'n akkurate of duursame perspektief te kan doen.

"So kan 'n meningspeiling vandag reg wees, maar môre as daar iets enorm in die politieke landskap gebeur, mag dit nie die geval wees nie."

Volgens Duvenhage werk baie van die organisasies wat die meningspeilings doen gewoonlik met 'n foutfaktor van 1% of 2%. "Sommige sê ook hulle doen nie voorspellings nie, maar sê net wat die gevoel op 'n gegewe dag oor 'n sekere onderwerp was. Maar wat is die doel daarvan as die uitslag nie langdurig is nie?"

Duvenhage sê die akkuraatheid van meningspeilings was die afgelope jare ook al hoe meer onder die internasionale kalklig, veral omdat dit nie die verkiesing van Donald Trump as Amerikaanse president of die Brexit-sage akkuraat kon voorspel nie.

Ebrahim Fakir, politieke ontleder en direkteur van programme van die Auwal Socio-Economic Research Institute (ASRI), het Maandag gesê nie alle meningspeilings moet geïgnoreer word nie.

"Sommige is egter nie wetenskaplik nie, maar eerder politieke veldtogte. Ander gee voor om wetenskaplik te wees, maar baie van hulle gebruik verkeerde metodologieë en tegnieke."

Hy meen daar is meningspeilings wat bruikbaar is, soos dié wat onder meer die vertroue in staatsinstellings of die doeltreffendheid van die regering toets, sowel as dié wat politieke partye intern vir eie gebruik laat doen.

SPELETJIES VANDAG

CTA