Die rede waarom die VF Plus so goed in die algemene verkiesing presteer het, is omdat hy anders as onder die leierskap van dr. Pieter Mulder in dr. Pieter Groenewald 'n partyleier met " 'n blaasvlam in sy maag" het.

Só sê dr. Piet Croucamp, 'n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit.
Teen vroeg Donderdagaand het dit gelyk of die VF Plus sy steun meer as sal verdubbel.Die WNNR voorspel die party sal 2,67% van die steun op hom verenig.
Met die vorige verkiesing in 2014 het die VF Plus net 0,9% steun gehad.
Croucamp sê die ideologiese retoriek van die EFF, die BLF en sekere ANC-lede het beslis 'n vervreemding onder wit Afrikaners laat intree. "Dit is dieselfde groep wat vroeër by die DA teen die ANC ‘geskuil' het.
Die konserwatiewe vleuel van die DA is eintlik net terug na hul natuurlike politieke tuiste
— Piet Croucamp
"Die konserwatiewe vleuel van die DA is eintlik net terug na hul natuurlike politieke tuiste." Croucamp sê Groenewald het baie doeltreffend daarin geslaag om die opvatting dat 'n stem vir kleiner partye 'n vermorste stem is te takel.
Emeritusprofessor Pieter Labuschagne van Unisa meen ook baie kiesers wat Woensdag vir die VF Plus gestem het, het vroeër DA gestem. Die DA se rassebeleid het hulle egter afgeskrik.
Adv. Anton Alberts, die VF Plus se premierskandidaat in Gauteng, glo baie kiesers wat met vorige verkiesings van die stembus weggebly het, het dié keer vir die VF Plus gestem.
Hy meen ook baie voormalige DA-lede wat gevoel het die party beskerm nie hul minderheidsregte nie, het dié keer vir die VF Plus gestem. "Hulle voel veiliger by ons in ons hoog gepolariseerde gemeenskap," sê Alberts.
Hy sê daar is ook baie bruin kiesers wat besef 'n party soos die VF Plus sal hul minderheidsregte beskerm en het daarom ook vir die VF Plus gestem."Dit is egter baie moeilik om te sê hoeveel bruin kiesers vir ons gestem het," sê Alberts.










