Dit is arrogant van die DA om kiesers te versoek om nie vir kleiner partye te stem nie.
Dr. Corné Mulder, VF Plus-leier in die Wes-Kaap, sê dít is die gevoel van VF Plus-ondersteuners landwyd in reaksie op Mmusi Maimane, DA-leier, se versoek.
Maimane het in sy jongste maandelikse nuusbrief, Bokamoso, onder meer geskryf sterk teenstand moet dringend teen die ANC gebou word en dat 'n stem vir 'n kleiner party net sou "neerkom op die herrangskikking van die dekstoele op die Titanic".
Mulder sê hy en dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het op hul landwye verkiesingsveldtog gevind dít is die soort arrogansie van die DA waarvoor kiesers moeg is.
Hulle het Dinsdag as deel van hul verkiesingsveldtog die huis van Sarel de Beer, 'n inwoner van Klipdam, Kuilsrivier, besoek.
De Beer het vertel hoe hy en sy bure al duisende rande se skade gely het weens vloedwater wat sedert 2005 elke jaar ná swaar reën hul erwe en huise oorstroom.
Volgens hom wag hulle steeds dat die munisipaliteit hulle help.
Groenewald het De Beer-hulle se skade toegeskryf aan 'n gebrek aan instandhouding en het belowe dat die VF Plus dringend 'n vergadering met Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, daaroor sal aanvra.

Volgens Groenewald het hulle reeds die hele land deurkruis en wil mense in hul hordes vir die party stem.
"Baie bel my ook regstreeks en sê hulle is moeg vir die dubbele standaarde van die DA vir wie hulle in die laaste verkiesing gestem het. Hulle sê ook hulle gaan dié keer vir ons stem omdat ons so sterk opkom vir die Afrikaanse gemeenskap."
Groenewald het dit duidelik gemaak dat hul doelwit vanjaar is om een miljoen stemme te kry.
"En dinge lyk belowend."
Schweizer-Reneke
Volgens hom kan voorvalle soos die een waarin 'n onderwyseres vroeër in Schweizer-Reneke van rassisme beskuldig is, die DA skade berokken.
"Mense is moeg dat die DA so gou die raskaart in sulke situasies speel."
Mulder sê wit en bruin Afrikaanssprekendes maak die meerderheid in die Wes-Kaap uit, "maar die DA veg nie daar vir Afrikaans nie".
Op 'n vraag oor koalisieregerings ná die verkiesing, het Groenewald gesê die VF Plus se deur staan oop.
"Die DA moet egter nog baie daaroor leer. Dit is omdat koalisies beter leierskap vereis van partye omdat koalisies altyd in die beste belang van die mense moet wees."
Volgens Groenewald oorweeg die VF Plus sy volgende stap in die regsgeding teen Black First Land First (BLF). Dit kom nadat die kieshof in Johannesburg Maandag die Verkiesingskommissie (OVK) beveel het om die registrasie van die BLF so gou moontlik in die Staatskoerant te publiseer.
Die VF Plus wil die BLF se registrasie as 'n politieke party nietig laat verklaar op grond van sy grondwet dat wit mense nie lid van die party mag wees nie.



















