Kollig op veiligheid op stemdag

Die pad na die sesde demokratiese verkiesing in Suid-Afrika het die kollig laat val op die land se staatsveiligheidsmasjinerie.

Só het politieke ontleders Maandag gesê.

Dr. Johan Burger
Dr. Johan Burger

Die aanloop tot Woensdag se verkiesing is gekenmerk deur onder meer sporadiese diensleweringsbetogings landwyd, beurtkrag, politieke binnegevegte in die regerende party, beskuldigings dat staatsinstellings misbruik is om partyleiers te teiken en dreigemente deur personeel van die Verkiesingskommissie (OVK) dat hulle die verkiesing tot stilstand sal bring weens vergoedingsdispute.

Dr. Johan Burger, ontleder by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), het Maandag gesê die "politieke onstabiliteit" in die ANC en gewelddadige diensleweringsbetogings het 'n atmosfeer van onstabiliteit rondom die verkiesing geskep.

"Daar is twee kampe in die ANC en daar is wedywering tussen die twee kampe. Politieke partye oor die hele spektrum heen het ook buitensporige aanmerkings gemaak wat verdere onstabiliteit veroorsaak het," het Burger gesê.

"Die polisie het ook sekere betogingsbrandpunte in KwaZulu-Natal en Noordwes geïdentifiseer, maar dié is nie die enigste plekke nie en misdadigers mag dalk elke geleentheid wil uitbuit."

KwaZulu-Natal is onlangs geruk deur aanvalle in 'n informele nedersetting by Durban op buitelanders. Tshwane, Johannesburg en Kaapstad is ook geraak deur protesoptrede deur gemeenskapslede, met sommige van die betogings wat gekenmerk is as politiek gemotiveerd.

Brig. Vish Naidoo
Brig. Vish Naidoo

Vish Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê dat hulle lede na provinsies soos KwaZulu-Natal en Noordwes ontplooi het om reeds vooraf stabiliteit te probeer bewerkstellig.

Hy sê genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, was Maandag in Vuwani, Limpopo, en dat Noordwes en ander provinsies ook besoek sal word om te verseker dat alles reg is.

"Ons nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (Natjoints) het maatreëls in plek om dreigemente te takel, so ons het na alles gekyk. Dis nou in die hande van die kiesers om te kom stem."

OVK-personeel verbonde aan die National Education Health and Allied Workers Union (Nehawu) was Maandag in gesprekke met die OVK-bestuur oor personeel se eise. Dít nadat personeel gedreig het om op stemdag te staak.

Protas Madlala. (Khaya Ngwenya, Gallo Images, City Press, file)
Protas Madlala. (Khaya Ngwenya, Gallo Images, City Press, file)

Die OVK het vroeër Maandag tydens 'n mediakonferensie in Pretoria gevra vir kalmte by sy 22 924 stempunte oor die land heen.

Protas Madlala, politieke ontleder, het sy fokus geplaas op die binnegevegte in die ANC, met spesifieke verwysing na toenemende agterdog dat 'n komplot onderweg was om die leierskap van pres. Cyril Ramaphosa te ondermyn.

"Al hierdie partye en klein groeperinge, gelei deur Hlaudi Motsoeneng en Jimmy Manyi, kan van die ANC se ondersteuningsbasis wegkalwe," het Madlala gesê.

Hy sê hy kan ook voorsien dat daar geweldpleging gaan wees by plekke soos Vuwani en sekere plekke in KwaZulu-Natal.

"In die noorde in KwaZulu-Natal het ons gesien dat 'n lid van die IVP en ook 'n lid van die ANC-jeugliga doodgemaak is. Ek kan voorsien dat Vuwani ook op stemdag onluste sal hê, en so ook informele nedersettings in Durban," het hy gesê.

Tsile Maswanganyi, woordvoerder van die OVK, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Khaya Xaba, nasionale woordvoerder van Nehawu, was ook nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Bonolo Selebano

SPELETJIES VANDAG

CTA