Verkiesings 2019

KYK: Só berig buiteland oor uitslae van verkiesing

Die verkiesing maak ook opslae in die buiteland. Dit is hoe die internasionale media oor Suid-Afrika se sesde demokratiese verkiesing berig.

Die nuusdiens Reuters hou die verkiesing met 'n valkoog dop en het deurnag oor die uitslae berig. Vroeg Vrydagoggend het hy berig dat die ANC ver voor is, terwyl daar ook uitgelig is dat die ANC vir die eerste keer in 25 jaar die swakste gevaar het.

"Suid-Afrikaners het Woensdag gestem vir 'n nuwe parlement en nege provinsiale wetgewers. Hulle het hul frustrasie uitgespreek oor korrupsie, werkloosheid en rasseongelykheid wat steeds diep gewortel is."

Die BBC het uitgelig dat die ANC se steun afgeneem het van sy 62% in 2014, terwyl talle kenners voorspel dat die ANC net 57% sal kry. Die BBC meen die ANC se aanloklikheid het weens kwade gevoelens oor die ekonomie en korrupsie afgeneem.

The New York Times meen die ANC het ondersteuning onder pres. Cyril Ramaphosa verloor, al wou "Ramaphosa se bondgenote" hê hy moet 'n "beslissende oorwinning geniet sodat hy sy mededingers se mond kon snoer". Dié publikasie het met 'n inwoner in Sharpeville gepraat wat gesê het dat hy steeds vir die ANC gestem het, al maak die korrupsie hom kwaad.

"Dit was nie maklik nie, maar ek gee die ANC nog 'n laaste kans," het die inwoner gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa op die ANC se laaste verkiesingssaamtrek Sondag by Ellis Park in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier
Pres. Cyril Ramaphosa op die ANC se laaste verkiesingssaamtrek Sondag by Ellis Park in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier

The Guardian berig dat Suid-Afrikaners vervreemd voel van die ANC weens korrupsieskandale en omdat die ANC met dienslewering faal, die werkloosheidsyfer die hoogte ingeskiet het en misdaad seëvier.

Teen Vrydag 07:00 is meer as driekwart van die stemme reeds getel, met die ANC wat voorloop. Die DA is in die tweede plek en die EFF derde.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM