Verkiesings 2019

Maimane klim onder ANC in op DA-saamtrek

Die beste tak van die ANC is in die hemel en die volgende tak van die ANC gaan by die Pollsmoor-gevangenis wees.

Mmusi Maimane, DA-leier, het Woensdag met dié woorde op 'n Werkersdag-saamtrek in Century City, Kaapstad, behoorlik onder die ANC ingeklim oor al die beweringe van korrupsie teen sy partylede.

Hy het in die Hillsong-kerk gepraat wat met DA-baniere en ballonne getooi was. 'n Feestelike atmosfeer het geheers. Die boodskap van die DA was duidelik: Hou die Wes-Kaap blou.

Die skare, wat hoofsaaklik met busse aangery is, het met nuwe blou DA-wolmussies gepronk en is met optredes van Snotkop en Emo Adams vermaak. Hulle het entoesiasties op dié versoek van Maimane, Helen Zille, Wes-Kaapse premier, Bonginkosi Madikizela, provinsiale DA-leier, en Alan Winde, DA-premierskandidaat, gereageer.

Mmusi Maimane, DA-leier, op die party se Werkersdag-saamtrek in Kaapstad. Foto: Philda Essop
Mmusi Maimane, DA-leier, op die party se Werkersdag-saamtrek in Kaapstad. Foto: Philda Essop

Maimane, wat soos 'n wafferse popster kompleet met vuurwerk by die kerk verwelkom is, het die hoë werkloosheidsyfer in sy toespraak vir Werkersdag betreur.

"Wanneer tien miljoen van ons mense elke dag wakker word en nie weet waar hul volgende maaltyd vandaan gaan kom nie omdat hulle nie die waardigheid van werk het nie, dink ek iets is verkeerd.

"Die misdaad van die afgelope 25 jaar is nie net korrupsie nie, maar dat te veel Suid-Afrikaners nie werk het nie. Dit is tyd vir verandering."

Hy het gesê die Mei-verkiesing gaan oor 'n keuse. "Dit is 'n keuse teen korrupsie en 'n keuse vir 'n toekoms vir die land. Dit is 'n keuse oor of ons 'n gekaapte polisiediens of 'n eerlike en professionele polisiediens wil hê. Dit is 'n keuse of ons verdeel wil wees op grond van ras, en of ons een Suid-Afrika vir almal wil bou."

Maimane het verwys na die skenking van R500 000 deur die omstrede dienstemaatskappy Bosasa aan pres. Cyril Ramaphosa se veldtog om ANC-president te word en die R2 miljoen wat sy seun, Andile, vir kontrakwerk van die maatskappy ontvang het.

"Dié regering se geld het opgeraak, hul idees het opgeraak. Nou wil hulle van almal steel. So hulle het 'n nuwe plan bewimpel - die nasionalisering van die Reserwebank. Hulle wil ook gesondheidsorg nasionaliseer. Weet julle wat hulle volgende gaan doen? Hulle gaan die mense se pensioene nasionaliseer," het hy gesê.

Suid-Afrika se toekoms hang volgens hom van die Mei-verkiesing af.

"Die ANC is besig om dood te gaan. Dit is gesteel, dit is klaar. Die vraag is, is dit nou of is dit later. As dit later is, gaan hulle meer skade aanrig. As dit nou is, kan ons steeds die land herbou.

"Hulle het soveel gesteel dat hulle selfs brandstof so duur maak. Dit kom by 'n punt waar mense nie meer petrol kan bekostig in die land nie. Dit gaan nie net oor brandstof nie maar ook oor kos en belasting op toegevoegde waarde omdat die staat gesteel is!" het hy uitgeroep.

Hy het belowe as Suid-Afrikaners vir die DA stem, die kabinet met die helfte verklein sal word.

"Ons wil 'n regering hê wat sal ophou om in luukse motors te ry en in luukse huise woon en sal die geld aan ons program vir jong mense skenk en daardeur seker maak dat meer mense werk en nie minder nie."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM