
Sonder water. En ook sonder "ware vryheid."
Só het die DA met verontwaardiging gereageer ná pres. Cyril Ramaphosa se besoek dié naweek aan Makhanda ten tyde van Vryheidsdagvieringe.
"Die inwoners van Makhanda het maande lank nie eens water gehad het nie, en ná al die jare is daar ook nog nie ware vryheid nie.
"Die president se mooipraatjies is 'n klap in die gesig van die inwoners," het Nqaba Bhanga, die DA se premierskandidaat in die Oos-Kaap, gesê.
"Nie net Makhanda nie, maar ook verskeie ander dorpe en stede in die Oos-Kaap en die res van die land het nie water nie.
"Die inwoners van Makhanda is, net soos die res van die land, moeg vir praatjies en leë beloftes, maar geen dienslewering nie."
Bhanga het daarop gewys dat Mzukisi Mpahlwa, burgemeester van Makhanda, in Januarie beter dienste aan die inwoners beloof het.
"Die inwoners hier sit egter met geen water in die krane nie, kragonderbrekings, vullis wat die strate vol lê en riool wat tot in huise invloei."

Hy sê dié inwoners word nie geflous deur die pogings van die burgemeester om die strate skoon te kry kort voor Ramaphosa se besoek nie.
"Dít is waarom die mense menslike afval in die strate gooi, om die waarheid te wys van wat gaan agterbly ná die vinnige pogings om die strate skoon te maak."
Vroeër in die dag is kospakkies, water en wapperende landsvlae uitgedeel in Makhanda voor Ramapohosa die stad besoek het.
'n Groot tent is by die Miki Yili-stadion in die Joza-township opgerig, met sitplek vir ongeveer 4 000 mense. Streng toegangsbeheer is toegepas.
Honderde mense het reeds vroegoggend hul sitplek in die tent ingeneem om na die musiek van plaaslike sangers te luister.
Verkiesing
Sommige mense het aangedui hulle het die byeenkoms bygewoon om hul vryheid te vier, terwyl ander gesê het hulle wil Ramaphosa sien en het gehoop vir redes hoekom hulle vir die ANC moet stem in die komende verkiesing.
"Hierdie is 'n dag wat ons elke jaar sal vier, dit is 'n dag wat ons almal gelyk gemaak het in Suid-Afrika en dit moet gevier word," het Nonkulu Siyanga gesê.
Joseph Daniels, 'n plaaslike inwoner, het gesê hy hoop Ramaphosa kan die ANC weer 'n "aantreklike" party maak om voor te stem.
"Ons paaie val uitmekaar, ons krane was vroeër vanjaar droog. Dit kan nie ons toekoms wees nie. Ek wou net gehoor het hoe die ANC ons gaan help."




















