N2 by Plet weer oop ná betoging

Die N2 by Plettenbergbaai in die Suid-Kaap is Woensdagoggend weer oopgestel nadat daar in die woonbuurt Qolweni betoog is.

Die betoging het Dinsdagaand uitgebreek, volgens inligting van die Bitou-munisipaliteit. Die N2 is gesluit en verkeer is deur Plettenbergbaai en ander buitepaaie herlei.

Motorbande is aan die brand gesteek en paaie versper. Die protesoptrede hou blykbaar verband met 'n poging om mense te mobiliseer om nie Woensdag te gaan stem nie.

Manfred van Rooyen, 'n munisipale woordvoerder van Bitou, het Woensdagoggend op die munisipale WhatsApp-groep vir die media gesê die N2 is weer in albei rigtings oopgestel.

Die openbare-orde-polisiëringeenheid is op die toneel om wet en orde deur die dag te handhaaf en die publiek te beskerm.

Volgens Van Rooyen het Bitou se burgemeester, Peter Lobese, omstreeks 09:30 in Kwanokuthula sy kruisie getrek.

SPELETJIES VANDAG

CTA