Die eerste skuiwe met die oog op koalisiegesprekke is Woensdag laataand reeds gemaak te midde van groot onsekerheid oor die invloed van die Wes-Kaapse reënweer en die effek van 'n moontlike wegblystem.

Partye het enkele ure voor die stembusse gesluit het nog geskarrel om hul kiesers by die stembus te kry. In die Wes-Kaap, waar bruin kiesers voorheen 'n bepalende invloed op die uitslag van verkiesings gehad het, was daar aanduidings dat daar in sekere DA-vestings drupsgewys gestem word.
"Ek het 'n boodskap van kritieke belang," het Helen Zille, uittredende DA-premier, in 'n telefoonboodskap aan kiesers gesê. "Die DA en die ANC is kop aan kop in die Wes-Kaap. Ek vra jou om te gaan stem voor dit te laat is."
In teenstelling hiermee het Mmusi Maimane, DA-leier, Woensdag in Bridgetown, Athlone, gesê hy is glad nie bekommerd dat kiesers in veral Mitchells Plain nie vir die DA gestem óf weggebly het nie. Volgens hom is hulle deur Kaapse DA-veldtogwerkers ingelig dat "dinge goed lyk vir die DA".
"Die DA is glad nie bekommerd dat die ANC of enige ander party stemme van ons sal weg hou nie," sê Maimane.
Hy het vroeër die dag in Soweto gestem en was in Pretoria om vir Solly Msimanga, DA-premierskandidaat in Gauteng, na die stembus te vergesel. Daarna het hy hom na Kaapstad gehaas.
Op 'n vraag of die DA al 'n moontlike koalisieregering in die Wes-Kaap oorweeg het, het Maimane gesê: "Die DA is hier om te wen."
* Intussen het Netwerk24 betroubaar verneem dat voorbereidings vir koalisiegesprekke in die DA wel reeds in 'n gevorderde stadium is vir verskeie scenario's.
Dié moontlike scenario's sluit in:
* Dat niks verander nie - die ANC behou politieke beheer op nasionale vlak en die provinsies bly onder die huidige politieke beheer;
* Dat die DA nie sy meerderheid in die Wes-Kaap behou nie, wat hom noodsaak om 'n koalisie te vorm;
* Dat die ANC onder 50% val op nasionale vlak of in een of meer provinsies, in welke geval daar 'n moontlikheid is dat die DA 'n koalisie met hom kan vorm. Die DA was egter altyd huiwerig om 'n minderheidsparty in enige koalisie te wees; en
* Dat die DA en die EFF 'n koalisie van een of ander aard kan vorm op dieselfde trant as dié wat tans in die metro's van Johannesburg en Tshwane die geval is, maar op 'n breër skaal.
SIEN OOK:VOLG HOE DIE UITSLAE REGSTREEKS ONTVOU
James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, het by navraag by die nasionale stemuitslagsentrum in Pretoria gesê die DA het 'n span gereed vir die moontlikheid van koalisiegesprekke en dat voorlopige werk reeds gedoen is.
"Enige gesprekke sal egter vir die verkiesingswiskunde moet wag voordat bepaal kan word watter koalisies en samewerkings moontlik is en in watter omstandighede," sê Selfe.
Dakota Legoete, waarnemende woordvoerder van die ANC, sê die ANC oorweeg nie moontlike koalisies nie. "Soos sake staan, het ons nie 'n mandaat of 'n besluit deur die nasionale uitvoerende komitee om koalisies te oorweeg nie. Ons neem deel om te wen."
Leigh-Ann Mathys, tesourier-generaal van die EFF, het op haar beurt gesê dié party het nie enige koalisiegesprekke of besprekings gevoer oor hoe hy moontlike koalisies sal hanteer nie.
"Dit is iets wat ons sal hanteer nadat die stemuitslae bekend is. In 2016, toe ons ná die munisipale verkiesing in gesprekke moes gaan - dit was nie eers 'n koalisie nie; toe ons saam met die DA gestem het - is dit altyd deur die nasionale amptenare van die party gelei."
Ook Philip van Staden, senior leier van die VF Plus, sê voordat daar oor koalisies gepraat kan word, moet daar eers gewag word vir die uitslae om op die telbord te kom.
"As dít gebeur, sal dit deur die hoofleierskap van die party en die hoofleier self hanteer word."
Patricia de Lille, leier van die Good-party, sê geen voorbereidings is getref ten opsigte van moontlike koalisies nie.
"Die nasionale uitvoerende komitee sal daaroor vergader as dit nodig is. Ons is vier maande oud en sal bly wees as ons enige setels kan kry. Sulke gesprekke sal plaasvind op die voorwaarde van wat die beste vir die kiesers en die mense is."
- Verslagspan: Llewellyn Prince, Maygene de Wee en Philda Essop










