'n Pleidooi op Facebook en - en vyf dae later het 'n Kapenaar Saterdag haar kruisie in die algemene verkiesing in Londen getrek.
Clarisse Coetzee, eienaar van 'n bemarkingsagentskap in Kaapstad, is vroeg in April Londen toe, maar moes toe besef sy het nie haar groen ID-boekie saamgeneem nie.
Op 22 April het sy op Facebook gevra of enigiemand dalk van Kaapstad af op pad is Londen toe en kans sien om die ID-boekie saam te bring.
En net betyds vir Saterdag se stemmery is Coetzee se kosbare groen ID-boekie toe Vrydag aan haar oorhandig deur Amanda Cromhout, ook van Kaapstad.

Cromhout het nóg 'n interessantheid in haar bagasie saamgeneem - 'n spesiale koei-uitrusting. Hiermee neem sy Sondag aan die Londense-marathon deel om geld in te samel vir die Choc-stigting (Childhood Cancer Foundation) en spesifiek vir 'n 12-jarige kankerlyer, Morgi.

Cromhout en nog 'n atleet, Nicky Horenz, se plan is om geld in te samel deur aan die 42 km lange Londen-marathon, die 90 km Comrades-ultramarathon en die Washie 100 Miler van 'n volle 160 km lank deel te neem.
Coetzee het haar ma se beste bobotie beloof aan die persoon wat haar ID-boekie sou saamneem. Wanneer Cromhout terug is in die Kaap, sal daar dus bobotie geëet word.
Maar eers het Coetzee, gewapen met 'n sakkie biltong én haar ID, haar kruisie gaan maak by die stembus in Londen, waar toue mense teen vroegmiddag gewag het om te stem.





















