Verkiesings 2019

Reën keer kiesers nie om te gaan stem

Reën en koel weer het Woensdagoggend nie die derduisende kiesers landwyd gekeer om hul kruisies te gaan trek nie.

Dit het egter sommige politieke partye bekommerd gehad, veral op die Kaapse Vlakte by Kaapstad, waar daar vroegoggend 'n lae opkoms by die stempunte waargeneem is.

'n Voornemende kieser daag voorbereid met 'n sambreel by die Kloofendal-natuurreservaat in Roodepoort op om haar kruisie in die verkiesing te trek. Donker reënwolke het Woensdag uit die niet oor die gebied verskyn. Foto: Werner Beukes
'n Voornemende kieser daag voorbereid met 'n sambreel by die Kloofendal-natuurreservaat in Roodepoort op om haar kruisie in die verkiesing te trek. Donker reënwolke het Woensdag uit die niet oor die gebied verskyn. Foto: Werner Beukes

Faiez Jacobs, provinsiale ANC-sekretaris, het sy kommer uitgespreek oor die reënweer wat die kieseropkoms in gebiede soos die Kaapse Vlakte geraak het. Volgens Jacobs was dit so erg dat die ANC sy stemwerwers later Woensdag oor die hele Kaapse Vlakte ontplooi het om mense daar aan te moedig om te gaan stem.

Hierdie gebied is gewoonlik deurslaggewend vir watter party in die Wes-Kaap wen.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens was dit 'n nat begin vir die dag vir die meeste kiesers in die land nadat reën uitgesak het oor die sentrale en suidelike dele van die land in die Vrystaat, die westelike dele van Noordwes, die oostelike dele van die Noord-Kaap, die Oos-Kaap en dele van die Wes-Kaap.

Boonop het talle stemlokale landwyd ook laat oopgemaak, terwyl die stembriewe by sommige laat aangekom het. Ander stemlokale se stembriewe het vinnig opgeraak.

Dakota Legoete, ANC-woordvoerder, sê die ANC hoop dat mense ten spyte van die nat weer in groot dele van die land steeds tot 21:00 Woensdagaand sal gaan stem.

"Dit is 'n positiewe teken. Dit wys mense is steeds vasbeslote om hul demokratiese reg uit te oefen."

Mense staan vas met hul sambrele in 'n ry buite 'n kerksaal in Despatch in die Oos-Kaap, om te stem. Nie eers die reën, wat redelik hard geval het, het hulle laat omdraai nie.
Mense staan vas met hul sambrele in 'n ry buite 'n kerksaal in Despatch in die Oos-Kaap, om te stem. Nie eers die reën, wat redelik hard geval het, het hulle laat omdraai nie.

Solly Malatsi, DA-woordvoerder, het gesê die DA is baie tevrede met die goeie opkoms van kiesers by die stempunte.

"Ons monitor die stemproses ten nouste om die integriteit van die verkiesing te beskerm. In hierdie verband het ons 'n aantal kwessies onder die aandag van die Verkiesingskommissie gebring om dit dringend op te los."

By die Laerskool Kameeldrift in Pretoria was die sowat 2 000 kiesers egter vroeg reeds ergerlik weens die talle probleme daar.

Tinus Buchling, 'n kieser, sê hy was reeds 06:30 by die stemlokaal, terwyl die OVK-beamptes eers om 07:12 opgedaag het.

In Senekal stem inwoners fluks ondanks die koue reënweer. Inwoners sê hulle stem meestal ANC of EFF. In die dorp sê kiesers hulle stem DA en VF Plus.
In Senekal stem inwoners fluks ondanks die koue reënweer. Inwoners sê hulle stem meestal ANC of EFF. In die dorp sê kiesers hulle stem DA en VF Plus.

André Botha, 'n ander kieser, sê die kiesers moes toe sowat twee ure wag voordat die stembriewe afgelewer is. "Daarna het mense vir 15 minute gestem voordat die nasionale stembriewe opgeraak het."

Botha sê die mense in die tou was "erg omgekrap".

Daar is later laat weet dat dié stemlokaal wel uiteindelik die regte aantal stembriewe ontvang het.

Kiesers by ander stemlokale, onder meer by die Suiderberg-skool in Pretoria en die Highveld Primary School in die suide van Johannesburg, het ook ure lank gewag voordat die stembriewe afgelewer is.

Ander stemlokale het tussen 15 en 45 minute laat oopgemaak.

Mense wag om te stem in die reën in Site C, Khayelitsha. Foto: Jaco Marais
Mense wag om te stem in die reën in Site C, Khayelitsha. Foto: Jaco Marais
Reënweer het gedreig om stemmery te stuit by die OVK se tent naby Lakeside in Kragga Kamma.
Reënweer het gedreig om stemmery te stuit by die OVK se tent naby Lakeside in Kragga Kamma.

Ander kiesers was weer omgekrap omdat daar te min skandeerders was om ID-dokumente te skandeer, wat die toue nog langer gemaak het. By ander stemlokale het die skandeerders nie gewerk nie en moes kiesers se besonderhede per hand nagegaan word.

In Marquard in die Oos-Vrystaat het 12 stemlokale weens betogings in die gebied eers teen omstreeks 09:45 geopen.

Mmathabo Rasengane, kommunikasiebestuurder van die OVK, het gesê die polisie moes die OVK-beamptes na al dié stempunte vergesel sodat dit kon open.

Geen probleme is tot dusver by stempunte in Noordwes aangemeld nie.

In Bloemfontein en op ander plekke in die Vrystaat het die verkiesingsdag ook in die gietende reën afgeskop, waar kiesers met sambrele buite moes wag toe baie van die stemlokale ook eers laat hul deure geopen het.

Llewellyn Prince, Andrea Küsel en Marietjie Gericke

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM