Die DA se hantering van die foto wat Elana Barkhuizen in 'n gr. R-klas by die Laerskool Schweizer-Reneke geneem het waarop wit en swart kinders apart sit, is een van die redes hoekom dié party steun in Noordwes aan die VF Plus afgestaan het.

So sê prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit (NWU).
Dié foto het in Januarie tot 'n rasseherrie gelei, maar dit het gou geblyk die kinders is weens taaloorwegings geskei.
Luyolo Mphithi, DA-jeugleier, het die wind van voor gekry omdat hy die foto versprei het sonder om die kinders se gesigte te verbloem en gesuggereer het die skeiding was weens ras.
Mmusi Maimane, DA-leier, het destyds vir Mphithi geskerm en gesê hy is ook 'n "slagoffer" van die sage nadat hy "oneerlik betrek is by die EFF en ANC se optrede, terwyl hy eintlik net antwoorde gesoek het".
Duvenhage meen dié voorval, sowel as Pieter Doorewaard en Phillip Schutte se skuldigbevinding weens die moord op Matlhomola Moshoeu (15) in Coligny, het tot rasverdeeldheid in die provinsie gelei.
"Die BLF (Black First Land First) se ekstremistiese uitsprake was ook vet op die vuur en het mense na die VF Plus gedryf."
Al Noordwes se stemdistrikte was Vrydag kort voor 11:00 getel. Die ANC se finale steun in Noordwes in die 2019-verkiesing is 63,6%. Die EFF geniet as amptelike opposisieparty nou 17% steun, byna 5% meer as in 2014. Die DA se steun is op 11,3% sowat 1% laer as in 2014, terwyl die VF Plus sterk gegroei het van 1,6% in 2014 tot 4%.
Waarheen nou, VF Plus?
Of die VF Plus nog gaan groei, sal afhang van die mate waarin die party in die volgende paar jaar sy steunbasis kan vergroot en 'n strategiese visie ontwikkel, sê prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit.
"Die VF Plus sal 'n steunbasis moet begin bou buite die bestaande (meestal) ouer bevolking en in nuwe omgewings begin groei."
Duvenhage sê die VF Plus kon daarin slaag om die "DA-mite" dat hy die enigste opposisieparty is wat 'n verskil kan maak, die nekslag toe te dien.
"Die neiging is dat politieke partye na links skuif. Die VF Plus het ook geskuif van 'n party van segregasie, na 'n party wat minderheidsregte in 'n demokrasie beskerm. Die VF Plus is beslis nie die regse pool van die radikaal-linkse BLF en EFF nie. Hulle is nou eerder konserwatief gematig en 'n party wat minderheidsbelange in 'n progressiewe demokrasie uitbou."
Duvenhage sê hoewel die ANC se steun met sowat 4% gedaal het van 2014 se 67,7%, het die party steeds beter as verwag presteer, gegewe die endemiese diensleweringsprobleme in die provinsie en konflikte in die ANC in Noordwes.
"Die daling van steun in Noordwes stem ooreen met die nasionale neiging. Die Cyril Ramaphosa-momentum en die feit dat mense nie maklik van party verander nie, verklaar hoekom die ANC steeds betreklik goed in Noordwes gevaar het."
Die DA het van al die opposisiepartye die swakste gevaar gemeet aan die aanvanklike verwagtinge, sê Duvenhage.
"Die EFF, wie se steun (van 17%) in Noordwes veel hoër as die nasionale steun (van sowat 10%) is, gaan die politiek in Noordwes sterk beïnvloed," voorspel Duvenhage.
Hy glo dié party se steun van byna 25% in Rustenburg en Mahikeng is te wyte aan die "Marikana-mitologie" en omdat die EFF sterk steun geniet onder studente aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Mafikeng-kampus.












