KYK: Buiteland berig oor verdeeldheid in SA

Suid-Afrika is 25 jaar ná die amptelike dood van apartheid steeds 'n verdeelde land met groot ongelykhede tussen arm en ryk, het CNN op die vooraand van die algemene verkiesing Woensdag berig.

Demokrasie het wel alle Suid-Afrikaners vry gemaak, maar nie genoeg het verander vir mense wat in townships woon nie.

Suid-Afrika is volgens CNN meer verdeeld as wat dit in 1994 was. Voorheen benadeeldes het steeds minder besittings, minder vaardighede, hulle verdien minder en is steeds in groot getalle werkloos, volgens 'n verslag van die Wêreldbank in 2018 oor armoede en ongelykheid in die land.

Reuters skryf die ANC staan voor sy moeilikste verkiesing nog omdat kiesers gefrustreerd is dat daar steeds soveel ongelykhede is 'n kwarteeu nadat hy die bewind oorgeneem het.

Pres. Cyril Ramaphosa, wat in 2018 by die skandaal-omhulde Jacob Zuma oorgeneem het, probeer die vertroue in die regerende party herstel, wat eens deur Nelson Mandela gelei is. Ramaphosa is nie in volle beheer van sy eie party nie wat sy pogings om hervormings in die ekonomie af te skop gestrem het. Die ANC het 'n inklusiewe besluitnemingsproses op belangrike sake.

"Ons sien steeds interne gevegte in die party teen pres. Ramaphosa," sê Peter Attard Montalto, hoof van navorsing oor kapitaalmarkte van Intellidex, berig Reuters.

Die BBC skryf ook dat die ANC se steun afgeneem het weens die groot ongelykhede wat nog bestaan.

"Die gematigde DA en die linkse EFF lei die aanslag op die ANC," volgens die BBC.

Stemmers wag geduldig om te stem in Phelindaba, Bloemfontein. Twee tente is opgerig ingeval dit sou reen, wat toe wel om 06:00 begin uitsak het. Dit het egter nie die kiesers afgesit nie. Meer as 50 mense het teen 08:00 gestem. Foto: Teboho Setena
Stemmers wag geduldig om te stem in Phelindaba, Bloemfontein. Twee tente is opgerig ingeval dit sou reen, wat toe wel om 06:00 begin uitsak het. Dit het egter nie die kiesers afgesit nie. Meer as 50 mense het teen 08:00 gestem. Foto: Teboho Setena

Reuters wys wel op syfers "wat wys hoe die etniese balans verander het".

Net 20% van Suid-Afrikaners behoort aan die middelklas, van wie 50% swart is, luidens 'n studie in 2014 deur die Universiteit van Kaapstad en die departement van monitering en evaluasie in die presidensie.

Dié 50% is sowat 2,8 miljoen mense terwyl die swart middelklas in 1993 sowat 600 000 mense was, volgens 'n studie deur prof. Colin Bundy wat aan die Universiteit van die Witwatersrand verbonde was.

In die laaste 25 jaar het die regering meer as 4,7 miljoen huise aan ouer en arm swart mense gegee, berig Reuters.

Sowat 67% van die kommersiële landbougrond is in wit hande, waar dit in 1994 87% was.

Die ekonomie het met sowat 0,8% in 2018 gegroei. Die grootste uitdagings was 'n resessie, droogte en onderbrekings van elektrisiteitsvoorsiening, volgens Reuters.

SPELETJIES VANDAG

CTA