Bheki Cele, minister van polisie, het Dinsdag gesê die weermag is gevra om vandag as voorsorgmaatreël in KwaZulu-Natal en Noordwes te ontplooi.
"In ander provinsies sal hulle gereed staan totdat hulle gevra word om te help," het Cele aan eNCA gesê.
'n Taai stemstryd word in KwaZulu-Natal verwag en geweld tussen opponerende groepe word nie uitgesluit nie.
Noordwes
In Noordwes haal mense hul ontevredenheid op beamptes van die Verkiesingskommissie (OVK) en eiendom uit.
21 mense is daar in hegtenis geneem nadat hulle Maandag 'n kiesbeampte se motor in Ganyesa naby Vryburg aan die brand gesteek het. Twee beplande stempunte in die buurt kon gister nog nie ingerig word nie en nog twee se inrigting is weens oproer vertraag.
Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die provinsie gister besoek. Hy sê 5 000 polisielede sal bykomend ontplooi word.

Dr. Tumelontle Thiba, hoofkiesbeampte in die provinsie, sê daar was sedert verlede week minstens vier voorvalle van onrus in Noordwes wat met die verkiesing verband hou.
Die eerste was toe 'n groep mense die Tlhakajeng Primary School in Kraaipan, wat 'n stempunt sou wees, verlede week aan die brand gesteek het.
'n Nuwe stempunt is nou reg oorkant die skool opgerig.
In nog 'n voorval het mense Maandag 'n stempunt in 'n township buite Potchefstroom bestorm en 'n leë stembriefhouer aan die brand gesteek.
Limpopo
In Limpopo is twee mense Maandag buite Giyani in hegtenis geneem omdat hulle OVK-beamptes oorrompel en van stembriewe beroof het. Stembriewe is stukkend geskeur.
Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die beamptes was op pad na 'n huis in die Guwela-nedersetting om 'n kieser te help om 'n spesiale stem uit te bring.
Bykomende polisielede is in die Giyani-streek ontplooi.
Inwoners van talle klein nedersettings in dié uitgestrekte landelike gebied weier om te stem.
Betogings het sedert verlede week opgevlam in veral die Ga-Sekgopo-gebied.
Mense is kwaad omdat hulle nie teerpaaie het nie en omdat groot gebiede sonder water is.
In Vuwani het inwoners gister 'n massavergadering gehou en besluit om nie te gaan stem nie.
Hulle is ontevrede omdat die munisipale grense van Vuwani ná die munisipale verkiesing in 2016 verander is.
Hulle het paaie in die omgewing begin versper en sê hulle gaan vandag keer dat ander kiesers by stempunte uitkom.
Vrystaat
In Viljoenskroon en Marquard in die Vrystaat is die veiligheidsmaatreëls by stempunte verskerp nadat betogings gister uitgebreek het.
'n Saal aangrensend aan die stadsaal in Viljoenskroon is gister in die vroeë oggendure afgebrand. Dit sou as stemlokaal dien.
Mmabatho Rasengane, OVK-woordvoerder, sê die groot saal sal nou as die stemlokaal gebruik word.
Volgens Rasengane is hulle bekommerd omdat ontevrede inwoners stemlokale teiken om hul griewe te lug.
Die OVK is ook bekommerd oor sy werkers. Die polisie het wel versterkings na die brandpunte gestuur en die OVK is tevrede dat die stemmery Woensdag normaal kan voortgaan.




















