Stemhulpmiddels vir gesiggestremdes en ander gewysig

Weens die groot aantal partye wat op 8 Mei aan die algemene verkiesing deelneem, moes die stemhulpmiddels vir gesiggestremde kiesers en kiesers met spesiale behoeftes noodgedwonge herontwerp word.

Die elektroniese uitslagbord in die nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt
Die elektroniese uitslagbord in die nasionale uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

Die gebruiklike sjablone van karton is aangepas om voorsiening te maak vir die nuwe lengtes van die nasionale en die nege provinsiale stembriewe, sê die Verkiesingskommissie (OVK).

Die stembriewe self is ook herontwerp om dit onder meer makliker vir gesiggestremde kiesers te maak om die politieke party van hul keuse uit te ken.

Die sjablone pas oor die stembrief en het vensters wat in braille en in 'n groot wit lettertipe genommer is sodat mense met verskillende voelbaarheid-, geletterdheid-, lees- en sigvlakke dieselfde sjablone kan gebruik, sê die OVK in 'n verklaring.

Elke stemlokaal sal 'n sjabloon vir die nasionale verkiesing asook een vir die betrokke provinsiale verkiesing hê.

Die OVK sê daar sal agt verskillende lengtes stembriewe wees.

Verkiesingsbeamptes is opgelei om gesiggestremde kiesers te help.

Dié kiesers mag ook vra dat die voorsittende beampte of 'n familielid hulle help om vir die party van hul keuse te stem.

Soveel name is op elke stembrief:

  • Op die stembrief vir die nasionale verkiesing is die name van 48 partye;
  • Die Gautengse stembrief het 36 partye;
  • Limpopo en die Wes-Kaap het elk 34 partye;
  • KwaZulu-Natal het 31 partye;
  • Noordwes het 29 partye;
  • Die Vrystaat en Mpumalanga het elk 28 partye;
  • Die Oos-Kaap het 26 partye; en
  • Die Noord-Kaap het 21 partye.

SPELETJIES VANDAG

CTA