Tate Makgoe stem by Vrystaatse skool

Onderwys moet gebruik word om 'n Suid-Afrika vir alle rasse te bou, het Tate Makgoe, Vrystaatse LUR vir onderwys, gesê toe hy Dinsdag in Bloemfontein 'n spesiale stem uitgebring het.

Makgoe het gesê hoewel dit goed is om na 'n tweederdemeerderheid te streef, sal die ANC ook daarsonder die land goed kan regeer en sorg dat verandering plaasvind.

Tate Makgoe, Vrystaatse LUR vir onderwys, wat Dinsdag in Bloemfontein gestem het.Foto:
Tate Makgoe, Vrystaatse LUR vir onderwys, wat Dinsdag in Bloemfontein gestem het.Foto:

Makgoe het sy spesiale stem in die Laerskool Universitas (Tjokkies) in Bloemfontein uitgebring.

Talle hoës in die ANC het Dinsdag spesiale stemme in die Vrystaat uitgebring.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC en voormalige premier van die Vrystaat, het sy spesiale stem in sy tuisdorp, Parys, uitgebring, terwyl Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, in Tweeling, haar grootworddorp in die Vrystaat, gaan stem het.

In die Vrystaat het 66 000 kiesers aansoek gedoen om met spesiale stembriewe te stem.

Makgoe het by navraag gesê sy naam is terug op die kieslys van die ANC in die provinsie nadat dit in 'n stadium weggelaat was.

Tate Makgoe, Vrystaatse LUR vir onderwys, wat Dinsdag in Bloemfontein gestem het.Foto:
Tate Makgoe, Vrystaatse LUR vir onderwys, wat Dinsdag in Bloemfontein gestem het.Foto:

Hy kon nie sê of hy ná die verkiesing weer LUR vir onderwys in die Vrystaat sal wees nie.

Hy het by die stemlokaal van die Laerskool Universitas aan Thabo Mokhutle, gebiedsbestuurder van wyk 26, gesê dit is lekker om te kan stem.

"Ek is bly alles verloop so glad by die stemlokaal. Ons het lank geveg vir ons demokrasie. Daarom moet almal nou stem."

Hy het later aan joernaliste gesê die Vrystaatse regering het die afgelope tien jaar daarin geslaag om skole in die provinsie in "plekke van hoop" te omskep.

"Dit is goed om leerlinge raak te loop wat dokters, ingenieurs en rekenmeesters geword het nadat hulle in die Vrystaat skoolgegaan het en om te weet jy het 'n bydrae tot hul loopbaan gemaak."

Hy het gesê die Vrystaat was drie jaar lank die top-provinsie wat sy matriekuitslae betref. Leerlinge het ook in die afgelope tien jaar baie verbeter in vakke waarin hulle in die verlede in swak presteer het, soos wiskunde, fisika en boekhou.

Waar net sowat 40% van leerlinge in die verlede wiskunde geslaag het, is die slaagsyfer nou 78%, en waar net sowat 40% van die leerlinge in die verlede fisika kon slaag, is die slaagsyfer nou 81%. Ons moet onderwys gebruik om die nasie en die land te bou," het hy gesê.

"In Bloemfontein moet onderwysers van Grey Kollege die kans kry om by townshipskole te gaan skoolhou en omgekeerd."

Hy het gesê die demokratiese bestel waarvoor so lank geveg is, moet gewaardeer word.

"Daar is baie Vrystaatse leerlinge wat voorheen nooit eens sou skoolgaan nie, wat nou 10:00 ontbyt by die skool kry. Daar is studente wat in die buiteland studeer. En net so is daar mense wat nou in huise bly terwyl hulle voorheen net 'n informele huis in 'n plakkerskamp gehad het."

SPELETJIES VANDAG

CTA