VF+ sê BLF-sage bedreig verkiesing se integriteit

Die Black First Land First (BLF)-registrasiesage kan die integriteit van Woensdag se verkiesing op die spel plaas, meen dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

Dr. Pieter Groenewald
Dr. Pieter Groenewald

Dit was Maandag sy mening toe hy in die parlement die jongste verwikkelinge in sy party se voortgaande hoftwis met die BLF bekend gemaak het.

Sy party glo dat die BLF se registrasie as 'n politieke party onwettig is en dat die party se deelname aan Woensdag se verkiesings ernstige gevolge vir veral die berekening van setels vir partye in die parlement en in sekere provinsiale wetgewers kan hê.

Groenewald sê sy party het om hierdie rede verlede week 'n prokureursbrief aan die Verkiesingskommissie (OVK) gestuur om hom te vra wanneer hy gehoor sal gee aan die onlangse bevel van die Verkiesingshof wat die kommissie beveel het om die registrasie van die BLF so gou as moontlik in die Staatskoerant te publiseer sodat ander partye daarteen appèl kan aanteken as hulle wil.

Die VF Plus wil die BLF se registrasie as politieke party nietig laat verklaar op grond van sy grondwet dat wit mense nie lid van die party mag wees nie.

Die OVK het Maandag ten tyde van die publikasie nie op Netwerk24 se navrae oor die aangeleentheid gereageer nie.

Groenewald het bygevoeg dat sy party tans ook besig is om deur vorige Staatskoerante te gaan "om te kyk of enige ander (van die 48) partye (op die stembrief) ook geregistreer is sonder dat dit in die Staatskoerant gepubliseer is.

Volgens Groenewald lyk dit in hierdie stadium of vier ander partye in 'n soortgelyke situasie is.

"Ons is egter baie versigtig om die betrokke partye te noem voordat ons baie seker van die saak is. Maar dieselfde sal vir daardie partye geld soos in die BLF se geval."

Hy meen dit het egter alles te make deur die versuim van die OVK om die kieswette na te kom.

"Die gevolge kan daarom baie ernstig wees omdat die Kieswet spesifiek voorsiening maak vir die toedeling van setels. Daarom gaan ons die saak tot op die hoogste gesag verder voer," het Groenewald gesê.

Intussen het Ralph Mathekga, politieke ontleder, Maandag in reaksie gesê hy glo nie die aangeleentheid behoort 'n impak op die verkiesingsuitslae te hê nie.

"Dit is omdat die spanning tussen die VF Plus en die BLF niks te doen het of die kieswette nagekom is of nie. Die twee party is net lynreg gekant teen mekaar. Dit is net politiekery.

"Die VF Plus kan die BLF polities aanval en andersom, maar ons kan nie die wette misbruik en moedswillig wees en sodoende sommige aspekte van die verkiesing in gevaar wil stel nie."

Volgens Mathekga is dit ook nie die BLF se werk om hom as politieke party te registreer nie, en moet die kwessie daarom met die OVK opgeneem word.

SPELETJIES VANDAG

CTA