Tot 26,74 miljoen geregistreerde kiesers kan teen Woensdagaand hul kruisies getrek het, maar vir die amptelike uitslag sal hulle tot Saterdag moet wag.
Die aankondiging van die Verkiesingskommissie (OVK) sal na verwagting die middag gedoen word. Dit sal 'n aanduiding gee van die aantal lede wat vir die onderskeie partye in die Nasionale Vergadering (NV) en in die nege provinsiale regerings gaan dien.
Volgens die OVK word die aantal stemme wat 'n party benodig, bepaal volgens die hoeveelheid mense wat gestem het.

Geldige stemme in 2014
In 2014 is daar vir die nasionale verkiesing 18 402 497 geldige stemme uitgebring en het 'n party 45 892 stemme nodig gehad om 'n lid na die NV te stuur. Vir die provinsies het dit gewissel van 13 627 stemme in die Noord-Kaap tot 59 219 in Gauteng. Die totale geldige stemme wat in dié twee provinsies uitgebring is, was onderskeidelik 422 431 en 4 382 163.
Tans het die ANC 249, die DA 89 en die EFF 25 lede in die NV.
Die eerste amptelike sitting van die nuwe NV is op 23 Mei. Hoofregter Mogoeng Mogoeng sal al die nuwe lede van die parlement inhuldig.
Die LP's sal dan 'n nuwe speaker kies, wat beteken dat die nuwe speaker die proses van die verkiesing van die adjunkspeakers sal behartig. Die hoofregter sal in beheer wees van die proses van die verkiesing van die president.
In al die gevalle word 'n geheime stemming gehou.
Die president sal Saterdag 25 Mei op Loftus Versfeld in Pretoria ingehuldig word.
Die groot aankondiging waarvoor alle Suid-Afrikaners dan gaan asem ophou, is wie die president se kabinet gaan wees. Volgens die Grondwet is die president by magte om sy/haar adjunkpresident en ministers in die verskillende portefeuljes aan te wys, en ook te ontslaan.


















