Verkiesings 2024

ActionSA stuur húlle parlement toe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

ActionSA sê hy "moet werk om die leemte te vul wat gelaat word deur 'n opposisie wat waarskynlik gekoöpteer sal word om saam met die ANC te regeer".

Die party het Maandagoggend in 'n verklaring die individue aangekondig wat hom in die Nasionale Vergadering sal verteenwoordig, en hulle bekend gestel.

ActionSA het reeds aangedui hulle stel nie daarin belang om deel van 'n regering van nasionale eenheid (RNE) te wees nie, omdat hy gekant is teen samewerking met die ANC.

"Met die oorweging van voorstelle vir 'n groot koalisie wat baie van die opposisieruimte in die parlement en in die wetgewers in beslag sal neem, het ActionSA besluit om die sterkste moontlike afvaardiging te stuur," lui die verklaring.

Athol Trollip van ActionSA. Foto: Argief/Deaan Vivier
Athol Trollip van ActionSA. Foto: Argief/Deaan Vivier

Hulle is:

Athol Trollip, voormalige DA-voorsitter, oudburgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro en ActionSA se Oos-Kaapse premierskandidaat in die verkiesing, wat 'n "lang rekord in die staatsdiens" het.

Dr. Kgosi Letlape, wat aan die stuur is van ActionSA se pogings om die gesondheidsorgsektor te transformeer. Letlape is 'n oudhoof van die Raad op Gesondheidsberoepe en was die eerste swart oogarts in Suid-Afrika.

Dr. Kgosi Letlape van ActionSA en oudhoof van die Raad op Gesondheidsberoepe. Foto: ActionSA
Dr. Kgosi Letlape van ActionSA en oudhoof van die Raad op Gesondheidsberoepe. Foto: ActionSA

Dereleen James, 'n anti-middelmisbruik-aktivis. Sy is ook voorheen deur die minister van maatskaplike ontwikkeling aangestel as 'n raadslid van die Suid-Afrikaanse Sentrale Dwelmowerheid en is 'n lid van die polisie se nasionale forum teen dwelms en bendes.

Lerato Ngobeni is ActionSA nasionale woordvoerder en " 'n ervare programbestuurder en volhoubaarheidspesialis wat gewerk het in sowel korporatiewe Suid-Afrika as burgerlike organisasies, insluitend die Nelson Mandela- en Hanns Seidel-stigting". Sy is 'n alumnus van die Thabo Mbeki-leierskapsinstituut.

Malebo Kobe is ActionSA se jongste parlementslid en is 32 jaar oud. Sy het opleiding in internasionale betrekkinge en het al voorheen in 'n premierskantoor en by Eskom gewerk.

Alan Beesley is 'n geoktrooieerde rekenmeester en het 'n meestersgraad in ontwikkelingstudies aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Hy het voorheen as 'n ActionSA-raadslid in die eThekwini-munisipaliteit gedien en streef daarna om die verval in sy tuisstad, Durban, ongedaan te maak.

In die Gautengse provinsiale wetgewer sal Funzi Ngobeni, ActionSA se provinsiale voorsitter, hom aansluit by die oud-LP Emma More en John Moodey, oudleier van die amptelike opposisie in die Gautengse wetgewer.

In Noordwes se provinsiale wetgewer sal ActionSA deur Kwena Mangope, afgetrede brigadier-generaal van die weermag, verteenwoordig word en in Mpumalanga deur Thoko Mashiane.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM