Verkiesings 2024

‘Al die deure oop vir ANC’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hokaai! Die ANC se Gwede Mantashe staan bont om vrae te beantwoord by die OVK-sentrum in Midrand, Johannesburg. Foto: Melinda Stuurman
Hokaai! Die ANC se Gwede Mantashe staan bont om vrae te beantwoord by die OVK-sentrum in Midrand, Johannesburg. Foto: Melinda Stuurman

Die ANC praat met 'n hele paar partye oor moontlike koalisies, sê die politieke ontleder dr. Oscar van Heerden.

"Ek is ingelig al die deure is oop. Daar is natuurlik in die ANC diegene wat sê ‘ons kan nie in 'n koalisie met die DA gaan nie', en dan is daar diegene wat sê ‘MK is net 'n wegbreekparty, ons moet hulle terugbring in die familie in'. Dit kom natuurlik met 'n hele hoop eise van (oudpres. Jacob) Zuma en so aan."

Hy het in gesprek met Mia Spies van Netwerk24 gesê hy meen nie MK sal tot geweld oorgaan nie, maar is net besig met politieke speletjies om die ANC in 'n hoek te probeer druk om aan sy eise toe te gee.

Van Heerden reken die DA is die koningmaker. "Ongelukkig wil hulle hulself nie in dié posisie bevind nie, maar hulle ís."

Ter wille van stabiliteit en om die land vorentoe te vat moet die DA bereid wees om die ANC se koalisievennoot te word, sê Van Heerden. "Natuurlik is daar elemente in die ANC wat dit nie wil hê nie. So, ons het nou volwasse leierskap nodig."

Prof. Theo Venter sê mense wat hulself soos 'n kropduif of brulpadda opblaas, is alles deel van die voorverkiesingsproses.

"Die oomblik dat die finale syfers op daardie borde gaan verskyn en die seteltoedeling gemaak word, dan tree daar 'n soort pragmatisme in. Ek dink ons wag nou nog vir daardie oomblik."

Baie om oor te besin. 'n Paar interessante besluite lê voor vir die DA se John Steenhuisen. Foto: Melinda Stuurman
Baie om oor te besin. 'n Paar interessante besluite lê voor vir die DA se John Steenhuisen. Foto: Melinda Stuurman

Dan sal politieke partye hul somme kan begin maak en bereken wat hulle moet doen hom hul kiesers tevrede te hou en hul party se behoud te verseker.

"Die DA weet: As hy hier 'n fout maak, dan is dit eintlik die dood in die pot vir hom. Die ANC weet: As hierdie koalisie nie reg werk nie, is dit die begin van 'n lang treurmare ondertoe. Almal weet dit en dit is nou 'n baie strategiese tyd om hierdie soort van berekeninge te maak en risiko's te neem. Dis 'n tyd vir leierskap."

Van Heerden sê daar is 'n "klein groepie" in die ANC wat hul leier, pres. Cyril Ramaphosa, verantwoordelik hou vir die party se swak vertoning in die verkiesing, "maar ons sal maar moet sien wat sê die NUK (nasionale uitvoerende komitee)".

Om die skuld op Ramaphosa te pak, is 'n te maklike uitweg, meen hy. "Die héle leierskap van die ANC moet 'n bietjie introspeksie hou en vra: ‘Wat het ons verkeerd gedoen oor die afgelope vyf jaar en hoekom het mense ons só getug?' "

Oor wat fout gegaan het, meen Van Heerden dit gaan eerder oor wat die ANC nié gedoen het nie.

Die media vergader om politici by die OVK-sentrum in Midrand, Johannesburg. Foto: Melinda Stuurman
Die media vergader om politici by die OVK-sentrum in Midrand, Johannesburg. Foto: Melinda Stuurman

Die party is in die ongemaklike situasie dat hy nie te ver regs beweeg nie, want sy ondersteuners wil dit nie hê nie. "Hulle kan nie alles privatiseer nie . . . Hulle kan ook nie te ver links beweeg nie, want sosialisme en dies meer, het ons mos nou gesien, faal oral in die wêreld."

Nou moet hulle probeer om 'n fyn balans in die middel te handhaaf. Die ANC het die hoë lewenskoste, werkloosheidskoers en misdaad nie op die regte manier getakel nie, sê Van Heerden.

Hy wys uit die party se KwaZulu-Natal-streek - waar MK die grootste slagting aangerig het - het in die vorige twee ANC-konferensies bedroë daarvan afgekom.

MK het ondanks sy goeie vertoning aangedring op 'n hertel van die stemme.

Daaroor sê Venter Zuma het sekere kenmerke in sy politieke profiel ontwikkel: "Hy's 'n ontwrigter, hy speel woer-woer met die reg, hy's besig om allerlei dinge te doen om die stelsel eintlik onder druk te plaas en hy doen presies dít met die verkiesing."

Hier geld egter ander reëls. Venter meen 'n hertellery sal die proses net uitrek en nie wesenlike veranderinge bring nie.

"Dit wys ons maar net watter posisie hulle gaan inneem as 'n ontwrigter in die proses vorentoe, wat die noodsaak vir 'n betreklik stabiele koalisie net verder uitwys."

• Die ANC se NUK sal Sondag vergader oor moontlike koalisies, het Mafika Mndebele, die ANC se provinsiale woordvoerder in KwaZulu-Natal, aan Netwerk24 bevestig.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM