Wat polisiëring betref, verloop die verkiesing tot dusver glad, maar hulle bly op 'n gereedheidsgrondslag, sê Bheki Cele, minister van polisie.
Hy het Vrydag by die nasionale uitslagsentrum in Midrand gesê tot dusver is geen groot voorvalle aangemeld wat met die verkiesing verband hou nie.
"Jy sou daarvan gehoor het as daar was. Ek dink dis danksy die Natjoints (die nasionale gesamentlike operasionele intelligensiestrukture). Daar was 'n paar opvlammings van die taxibedryf in die Oos-Kaap, maar die polisie het beslissend daarmee afgereken."
Volgens Cele is daar wel 98 sake geopen in verband met voorvalle "wat nie so ernstig is nie". Sowat 50 mense is in verband daarmee in hegtenis geneem. Die meeste van hulle is op borgtog vrygelaat en sewe is nog in aanhouding.
Cele het lede van die polisie geloof vir die goeie werk wat hulle tot dusver verrig het. Die minister is wel bekommerd oor een voorval waar 'n polisielid met regalia van 'n politieke party aan diens was.
Volgens Cele sal die bykomende polisielede wat ontplooi is en die spesiale maatreëls van toepassing wees tot nadat die uitslag van die verkiesing aangekondig word. Die ontplooiings sal eers onttrek word as die situasie as "veilig" bestempel word.
Granville Abrahams, hoofbestuurder van die OVK, het vroeër gesê hulle hoop die uitslae sal reeds Saterdag aangekondig word.
Cele sê voorts hulle het geen groot bedreigings bespeur nie en die intelligensiedienste is hard aan die werk om die nodige inligting aan die polisie te verskaf.
Oor die ANC se uitslae tot dusver, het Cele in sy hoedanigheid as lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gesê hy wil nie nou daaroor praat nie.
"Dit moet deur die ANC-leierskap bespreek word as 'n kollektief. Ek gaan nie my persoonlike beskouings hier belig nie. Ons sal saamkom, dit behoorlik bespreek, en dan daaroor praat sodra 'n besluit geneem is."
Volgens Cele verwag hy dat die NUK gou sal vergader.




















