Verkiesings 2024

ANC bly koning in Limpopo

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Limpopo is die provinsie waar die ANC by verre die grootste meerderheid steun (73,81%) in die algemene verkiesing verwerf het.

"Inwoners van Limpopo is die ANC en die ANC is hulle. Hulle stem vir die ANC, want ons is betroubaar," het Reuben Madadzhe, sekretaris-generaal van die ANC in Limpopo, gesê.

Stan Mathabatha, premier van Limpopo en voorsitter van die ANC in Limpopo, Vrydag by die Verkiesingskommissie se uitslagsentrum by The Ranch buite Polokwane.  Foto: Marietie Louw-Carstens
Stan Mathabatha, premier van Limpopo en voorsitter van die ANC in Limpopo, Vrydag by die Verkiesingskommissie se uitslagsentrum by The Ranch buite Polokwane. Foto: Marietie Louw-Carstens

Vanjaar se 73,81% is wel 'n effense daling vir die ANC vanaf die 75,49% wat hy in die 2019- nasionale verkiesing behaal het.

Meer as 'n miljoen (1 037 627) mense het Woensdag hul kruisies vir die party getrek. Luidens inligting van die Verkiesingskommissie (OVK) het 58,64% van die geregistreerde kiesers in Limpopo in 3 216 stemdistrikte gestem.

Die ANC sal 48 setels in die provinsiale wetgewer hê, wat nou gegroei het en uit 64 setels sal bestaan.

Die amptelike opposisie in Limpopo is nes in 2019 steeds Julius Malema se EFF met 14,12%, oftewel 199 900 stemme. Sy steun het effens afgeneem van 14,43% in 2019.

Die EFF het nege setels in die provinsiale wetgewer, twee meer as in 2019 se nasionale verkiesing.

Die DA is die derde grootste party in Limpopo met 5,96%, oftewel 84 388 stemme. In die 2019-verkiesing het hy 5,4% behaal.

Papa Penny, oftewel Eric Nkovani van Giyani in Limpopo, het verlede week nog stemme vir die MK-party gewerf. Die party het een setel in die provinsiale wetgewer gekry.  Foto: Verskaf
Papa Penny, oftewel Eric Nkovani van Giyani in Limpopo, het verlede week nog stemme vir die MK-party gewerf. Die party het een setel in die provinsiale wetgewer gekry. Foto: Verskaf
Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, en Mariette Roos, VF Plus-lid, Vrydag by die provinsiale verkiesingsentrum by The Ranch buite Polokwane.  Foto: Rudzani Tshikororo
Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo, en Mariette Roos, VF Plus-lid, Vrydag by die provinsiale verkiesingsentrum by The Ranch buite Polokwane. Foto: Rudzani Tshikororo

Lindy Wilson, DA-leier in Limpopo, het Maandag gesê hulle is tevrede met hul uitslag en bly dat hulle 'n vierde setel in die provinsiale wetgewer behaal het.

"Die groei stel die DA nou in staat om nog meer van die tekortkominge en gebrek aan dienslewering van die ANC bloot te stel. Ons werk is om al die mense van Limpopo te beskerm en ons sal voortgaan daarmee," het Wilson gesê.

Marcelle Maritz, VF Plus-leier, sê sy is dankbaar dat sy haar setel behou het. Die VF Plus het een setel in die provinsiale wetgewer en het 1,09% van die stemme, oftewel 15 393, verwerf.

Die MK-party het 12 027 stemme (0,85%) in Limpopo verwerf. Dit kan moontlik deels toegeskryf word aan die vermaak-ster Papa Penny, wat vir jare 'n stoere ANC-ondersteuner was en eers in Mei by MK aangesluit het.

Lindy Wilson, DA-leier in Limpopo en LPW, Saterdag by die OVK-sentrum by The Ranch buite Polokwane in Limpopo. Foto: Facebook/Lindy Wilson
Lindy Wilson, DA-leier in Limpopo en LPW, Saterdag by die OVK-sentrum by The Ranch buite Polokwane in Limpopo. Foto: Facebook/Lindy Wilson

Papa Penny, oftewel Eric Nkovani, is 'n sanger van Giyani en het sy eie werklikheidsreeks, Papa Penny Ahee, op DStv. Hy het met MK se saamtrek op 21 Mei in die Orlando-stadion in Soweto in 'n groen satynjas, goue skoene en 'n luiperdvelbroek saam met oudpres. Jacob Zuma op die verhoog gedans. Hy het in die dae voor verlede week se verkiesing in dieselfde klere in Giyani se strate agterop 'n bakkie stemme vir MK gewerf.

Madadzhe het twee weke gelede op 'n nuuskonferensie in Polokwane gesê MK "is nie 'n party om mee rekening te hou nie".

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM