Die DA beman nou twee setels in die uitvoerende komitee van die provinsiale regering in KwaZulu-Natal, die onstuimigste provinsie in die land. Martin Meyer is LUK vir openare werke en infrastruktuur en Francois Rogers hou as LUR vir finansies die provinsie se beursie vas. Antoinette Slabbert het met hulle gesels.
Oral waar Francois Rodgers in KwaZulu-Natal gaan, gaan hy vaskyk in sy voorganger se gesig.
Die provinsiale departement het vroeër ten duurste duisende almanakke en dagboeke laat druk met die LUK se gesig op. Dit is na die departement se kantore oor die provinsie heen versprei en ook by die hope uitgedeel op besoeke aan gemeenskappe.

Rodgers is skaars in sy nuwe pos as LUK van finansies in dié provinsie aangestel of die amptenare staan gereed om nuwe almanakke en dagboeke te laat druk met sy foto daarop - in die middel van die jaar. Rodgers se reaksie was: "Stop die bus!"
Sulke dinge is vir hom nie belangrik nie. "Dis vrugtelose en verkwiste uitgawes," sê hy. "Ek wil niks hê met my gesig op nie. Ek is nie hier vir my mooi gesig nie, maar om 'n job te doen!"
Nog iets wat hom dronkgeslaan het, sê Rodgers, is dat die LUK 'n kantoor in Pietermaritzburg het en een in Durban. 'n Hele verdieping, met kantore en 'n raadsaal, is in 'n gebou in Durban gehuur. "Gelukkig kom die huurkontrak einde Julie tot 'n einde," en dit word beslis nie hernu nie, sê hy. "Oor vyf jaar bespaar ons R5 miljoen!"
Rodgers, 'n sakeman wat diep spore getrap het in Kokstad, was agt jaar op die opposisiebanke in die komitees vir finansies en openbare rekeninge.
"Dit is 'n groot verandering om van opposisie na regering te skuif," sê hy.
Uit die opposisiebanke het hy jare lank gewaarsku die geld gaan opraak, en noudat sy woorde waar geword het, sit hý met die gebakte pere. Hy is verantwoordelik vir die provinsiale tesourie en die begroting.
Vir die huidige jaar word 'n allemintige tekort van R8 miljard geprojekteer.
Uitgawes moet drasties ingekort word, want die geleenthede om provinsiale inkomste te verhoog is beperk en die nasionale tesourie sal nie vir KZN meer geld gee tensy die provinsie self sy gordel stywer trek nie.
"Dis 'n geweldige uitdaging, maar ek sien kans daarvoor," sê Rodgers.
"Ek gaan nie die gewildste mens in die regering wees nie! Dis soos 'n bankbestuurder. As hy vir jou 'n huislening gee, hou jy van hom, maar wanneer hy nie verder vir jou geld wil leen nie, is dit 'n ander saak."
Gelukkig, sê Rodgers, het KZN een van die beste tesourieë in die land. Tot dusver was die bekwame amptenare se hande egter afgekap weens politieke inmenging, maar dit kry nóú einde. En as die regering waarvan hy deel is met sy papierdun meerderheid wankel?
"KwaZulu-Natal se regering móét staande bly. Die alternatief is te rampspoedig om eens aan te dink, want dan is MK en die EFF in beheer . . ."
‘Hou my kind veilig'
Die ma van Martin Meyer, nuut aangestelde LUK vir openbare werke en infrastruktuur, wil die telefoonnommers hê van die wagte wat hom nou bewaak. Sy wil seker maak dat hulle haar seun, wat ná enkele dae in die pos die provinsie se berugte konstruksiemafia die stryd aangesê het, veilig hou.
Die portefeulje was voorheen openbare werke en behuising, maar met die geweldige uitdagings om infrastruktuur het die premier gevoel 'n fokus daarop is nodig, sê Meyer. Behuising is verskuif na 'n ander portefeulje. "Die hooffokus is om 'n infrastruktuur-agentskap vir die provinsie tot stand te bring wat nuwe projekte en instandhouding sal behartig." As't ware 'n Sanral vir KZN.
Die departement sal ook advies gee aan munisipaliteite en "kyk hoe ons met die nasionale regering kan saamwerk om dalk die werk op plaaslike vlak oor te neem".
Daar moet nog besluit word of die verantwoordelikheid vir provinsiale paaie na sy portefeulje oorgeplaas word of by vervoer bly, en hoewel water 'n nasionale funksie is, glo hy sy departement kan doeltreffend 'n oog hou oor plaaslike pypleidings en ander infrastruktuur.
"Daar is genoeg water in KZN. Die probleem is om dit by die mense te kry. Die water is daar, maar in eThekwini gaan 56% daarvan verlore." Trouens, dit is algemeen dat munisipaliteite 50% tot 65% van die water in hul pype verloor.
Dan is daar gevalle op die platteland, soos die gemeenskap 10 km van die tamaai Jozini-dam wat al dekades lank sonder water sit . . .

"Die regering van KZN besit baie geboue oor die provinsie heen wat leegstaan. Dit verval en word oorgeneem deur misdadige elemente en dan huur ons ten duurste elders spasie."
Meyer het reeds opdrag gegee dat 'n oudit gedoen word van al die eiendom wat die KZN-regering besit. "Ons gaan eers kyk of ons kan skuif na ons eie geboue toe. As geboue steeds onbenut is, sal ons kyk of dit nie beter gebruik kan word tot voordeel van die gemeenskap nie. 'n Mens kan dit byvoorbeeld beskikbaar stel vir welsynorganisasies - 'n soort eenstopplek wat tien welsynorganisasies huisves, solank hulle saam die water-en-ligterekening betaal."
Skole wat nie gebruik word nie, kan omgeskep word vir vaardigheidsopleiding. Die ander alternatief is om onbenutte geboue te verkoop. "Die regering betaal sowat R800 miljoen per jaar aan eiendomsbelasting en ons weet nie eens wat ons alles besit nie!"
'n Ander prioriteit is om staatsgeboue meer bestand te maak teen rampe wat met klimaatsverandering verband hou. "Ons infrastruktuur word in storms beskadig. Dan herbou ons dit op presies dieselfde manier en is verbaas as dit weer gebeur."
Oor die konstruksiemafia sê Meyer hy het begrip daarvoor dat gemeenskappe moet voordeel trek uit projekte in hul omgewing, en is bereid om daaroor te praat. "Tenderprosesse het net 'n klein groep ryk gemaak, maar as jy met tien dubbelkajuitbakkies op 'n bouperseel opdaag en AK47's rondswaai, gaan jy nie wen nie."
Hy hoop daar sal op nasionale vlak politieke steun wees om 'n einde te maak aan die misdadige ontwrigting wat al jare lank ekonomiese ontwikkeling kniehalter. Premier Thami Ntuli is baie ernstig oor misdaadbekamping en het daarom juis gemeenskapsveiligheid direk aan hom laat rapporteer.
"Die taxibedryf en vakbonde is betrokke en dit is sedert 2015 nie reg hanteer nie," sê Meyer, 'n opgeleide maatskaplike werker.
Die kwessie word bemoeilik deur die betrokkenheid van militêre veterane. Dié dat sy ma 'n woordjie met die wagte wil wissel!










