Die DA loop sterk voor in die Kouga-munisipaliteit, die enigste munisipaliteit in die Oos-Kaap waar hy aan bewind is.
Yusuf Cassim, die DA se Oos-Kaapse voorsitter, sê waar ook al dié party regeer, sal mense weer vir hom stem omdat dinge onder 'n DA-regering wérk.
"Die ANC het te lank toegelaat dat Kouga ineenstort. Dit is 'n bewys dat mense verstaan ??dat ons 'n verskil maak," het hy aan Netwerk24 gesê.
Cassim was Vrydag by die provinsiale uitslagsentrum in Oos-Londen.
Volgens die Verkiesingskommissie (OVK) het die DA teen Vrydagmiddag omstreeks 14:00 sowat 52,33% van die stemme in die Kouga-munisipaliteit gehad. In die 2019- algemene verkiesing het die party hier 47,94% van die steun getrek.
Die ANC, wat die opposisie in die Kouga-munisipaliteit is, het Vrydag sterk in die tweede posisie gestaan op 30,88%.
Steun vir die DA het ook in die Nelson Mandelabaai-metro, waar politieke onstabiliteit aan die orde van die dag is, toegeneem. Teen Vrydagmiddag omstreeks 14:00 het sy steun hier op sowat 38,71% gestaan met die ANC se steun op 35,96%.
"Mense het gesien dat die huidige koalisie in daardie metro dienslewering negatief beïnvloed het. Die steun wat die DA in die metro gekry het, plaas ons in 'n goeie posisie en ons is uiters optimisties oor die (volgende) munisipale verkiesing," sê Cassim.
Die PA het ons basies uitgewis in bruin gemeenskappe, 'n demografie wat ons teiken. Daar was egter ook probleme met die OVK se stelsels.
Die EFF, wat lid is van die huidige Nelson Mandelabaai-koalisieregering, se steun het ook toegeneem. Vrydag het dié party 7,85% van die stemme gehad, vergeleke met die 7,74% van die algemene verkiesing in 2019.
Khanya Ngqisha, die EFF se streekleier, sê hy is bly om te sien dat bruin gemeenskappe hul arms oopmaak vir dié party.
"Ons het ook baie werk gedoen met die direktorate wat ons in die metro het. Riviere van onverwerkte rioolvuil het deur Gelvandale in die noordelike voorstede se strate geloop en ons het daarin geslaag om dit reg te maak," sê hy.
Siya Mayana, Good se streeksvoorsitter, het aan Netwerk24 gesê hul steun het afgeneem as gevolg van die Patriotic Alliance (PA) en 'n tekort aan hulpbronne.
"Die PA het ons basies uitgewis in bruin gemeenskappe, 'n demografie wat ons teiken. Daar was egter ook probleme met die OVK se stelsels. In sommige gemeenskappe het die kiesers geweier om te stem omdat hulle ontmoedig was (oor die lang rye)," sê hy.
Good het Vrydag op 0,28% gestaan vergeleke met die 0,71% wat hy in die vorige algemene verkiesing gehad het.
Provinsiaal loop die ANC steeds sterk voor op 65,75%, met die DA tweede op 12,13%, en die EFF derde op 9,79%.




















