2024

Datum vir parlementsopening binnekort bekend gemaak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ná die verkiesing van die voorsittende beamptes en die inhuldiging van die president, verskuif die sewende parlement se fokus nou na die oprigting van die interne strukture wat nodig is vir die parlement se funksionering.

Pres. Cyril Ramaphosa, in oorleg met Thoko Didiza, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), en Refilwe Mtsweni-Tsipane, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), sal nou 'n datum bepaal vir die opening van die parlement.

Dit lui amptelik die begin van die nuwe parlementêre termyn in en die nuwe administrasie se planne sal dan aangekondig word, sê die parlement in 'n verklaring.

Die sitting word in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum gehou.

Daarna sal die reëlskomitees van die NV en NRP sit en die strukture skep wat die NV en NRP nodig het om te funksioneer.

Hulle besluit luidens die verklaring ook oor die samestelling van komitees, die formule vir swepe in die parlement, spreektyd in debatte en die getal lede wat in 'n komitee moet dien.

Die swepe is verantwoordelik vir dissipline in die politieke partye en om te verseker dat lede parlementêre sittings bywoon en daaraan deelneem.

Foto ter illustrasie. Foto: Jaco Marais
Foto ter illustrasie. Foto: Jaco Marais

Die vasstelling van spreektye is van kardinale belang vir die handhawing van orde en dekorum in die huise en om te verseker dat gesprekke produktief en gefokus is, lui die verklaring.

"Die samestelling van die toesigkomitees word gelei deur die kabinetslede wat deur die president aangewys is, aangesien die komitees oor staatsdepartemente toesig hou. Die komitees is noodsaaklik om die werk van die regering noukeurig te ondersoek, 'n platform vir debat te bied en aanspreeklikheid te verseker."

Sodra al die strukture van die huise gevestig is, sal die gesamentlike programkomitee oor die parlementêre program beraadslaag. Die komitee speel luidens die verklaring 'n belangrike rol om die grondslag te lê vir 'n produktiewe wetgewende sitting, aangesien dit verantwoordelik is vir die opstel van 'n program vir die eerste termyn van die nuwe parlement.

"Die program stippel die skedule en prioriteite vir parlementêre aktiwiteite uit wat 'n gestruktureerde en doeltreffende benadering tot wetgewende en toesighoudende verantwoordelikhede verseker," lui die verklaring.

Volgens die parlement sal nuwe LP's van 2 tot 5 Julie oriëntasieprogramme volg voordat hulle hul nuwe rol inneem.

"Die program sal 'n wye reeks onderwerpe dek, soos 'n inleiding tot die kernsake van die parlement, die rolle en verantwoordelikhede van lede en ampsdraers, 'n oorsig oor etiek en openbaarmaking deur LP's, die reëls wat die werksaamhede van elke huis rig, en dié wat gesamentlike sittings lei.

"Ná die sukses van die eerste sittings van die twee huise is die sewende parlementêre administrasie gereed om die leisels te neem en te verseker dat die parlement sy grondwetlike mandaat van toesig oor die uitvoerende gesag vervul en 'n platform bied vir die stem van Suid-Afrikaners in regeringsbeleid en die toepassing daarvan," lui die verklaring.

CTA