Verkiesings 2024

Eerste parlementsitting: Só gaan dinge verloop

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Terwyl politieke partye rondskarrel vir koalisie-gesprekke om 'n nasionale regering te vorm, moet die nuwe parlement binne twee weke sy eerste volle sitting hou.

Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, het Sondag gesê die eerste sitting van die Nasionale Vergadering (NV) moet ingevolge wetgewing plaasvind nie later nie as 14 dae nadat die verkiesingsuitslae bekend gemaak is.

Die Verkiesingskommissie (OVK) sou na verwagting later Sondagaand amptelik die uitslae bekend maak op 'n geleentheid waar pres. Cyril Ramaphosa as staatshoof ook sal praat.

Politieke partye moet oor 'n nasionale koalisieregering praat nadat Ramaphosa se ANC nie 'n volstrekte meerderheid in die algemene verkiesing gekry het nie.

Moloto Mothapo Foto: Daily  Sun
Moloto Mothapo Foto: Daily Sun

Volgens Mothapo sal hoofregter Raymond Zondo die presiese datum van die eerste NV-sitting bepaal en in die Staatskoerant publiseer.

"Voordat LP's van die NV hul funksies kan verrig, moet hulle ingevolge die Grondwet getrouheid aan die land en gehoorsaamheid aan die Grondwet sweer of bevestig."

Mothapo het gesê daar is tans geen NV nie, maar die proses om dit ná die verkiesing saam te stel, het reeds begin.

Nadat die verkiesingsuitslae amptelik bekend gemaak is, sal die OVK LP's aanwys en die lyste daaroor aan Zondo oorhandig, wat dit op sy beurt aan die parlement oorhandig.

"Die parlement is ten volle voorbereid en alle nodige reëlings is getref vir die samestelling van die nuwe NV.

"Omvattende planne is in plek om 'n naatlose oorgang te verseker, insluitend om nuwe LP's aan boord te neem.

"Nuutverkose LP's sal ook aan 'n gestruktureerde oriënteringsprogram blootgestel word," het Mothapo Sondag verder gesê.

Hy het bygevoeg dat die eerste sitting van die NV in die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum sal plaasvind. Dit nadat die NV-gebou self twee jaar gelede in 'n brand vernietig is en die restourasieprojek daarvan tans aan die gang is.

Volgens Mothapo moet die NV as wetgewende gesag van die land 'n regering deur die mense verseker deur 'n president te kies en 'n nasionale forum te voorsien vir die openbare oorweging van kwessies soos die deurvoer van wetgewing en toesighouding oor die uitvoerende gesag se optrede.

"Die kantoor van die hoofregter het die reëls vir die eerste sitting van die NV amptelik in die Staatskoerant gepubliseer. Dié reëls, soos op 27 Mei goedgekeur deur hoofregter Zondo, stippel die prosedures uit vir die verkiesing van kern- parlementêre en provinsiale amptenare, insluitend die president, die speaker en adjunkspeaker van die NV, en die voorsitter en adjunkvoorsitters van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP).

"Die verkiesing van die president, wat uit LP's van die NV gekies word, word deur die hoofregter van die land behartig.

"Wanneer die president gekies is, is hy of sy nie meer 'n LP van die NV nie. Hy of sy moet binne vyf dae die amp aanvaar deur op 'n inhuldigingseremonie trou aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet te sweer of te bevestig."

Sodra die president die amp aanvaar het, moet hy of sy volgens Mothapo sy kabinet aanstel.

Die president sal dan, in samewerking met die nuwe speaker van die NV en die NRP-voorsitter, 'n datum bepaal vir die parlementsopening waar die president sy openingsrede sal hou.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM