Die bal is nou in die ANC se baan oor die rigting wat hy met sy voorgestelde regering van nasionale eenheid (RNE) gaan inslaan, sê Julius Malema, EFF-leier.
Sou dit die DA of VF Plus insluit, sal die EFF nie deel van die RNE wees nie.
"Die EFF is teen die insluiting van die DA en VF Plus gekant," het Malema Donderdagaand op 'n mediakonferensie in Kaapstad gesê.
Hoewel die EFF twee vergaderings met die ANC gehad het, het hulle nog nie 'n tasbare ooreenkoms nie.
"Ons is egter bewus daarvan dat die ANC besig is om 'n ooreenkoms te finaliseer om saam met die DA, die VF Plus en ander reaksionêre politieke partye te werk. Soos ons voorheen gesê het: Die EFF sal nie aan 'n regering deelneem wat regse en reaksionêre politieke partye insluit nie."

Malema het ook Donderdagoggend met pres. Cyril Ramaphosa in sy hoedanigheid as ANC-president vergader en weer eens sy party se wense duidelik gemaak dat hulle nie aan 'n RNE sal deelneem waaraan die DA en VF Plus deel het nie.
Malema sê sy teenkanting teen die DA en VF Plus is nie weens ras nie.
"Ons is nie teen wit mense gekant nie, maar teen wit heerskappy, rassisme, witmonopoliekapitaal en ‘Afrikanerdom'. Dit gaan oor 'n party wat rassisme verteenwoordig."
Hy sê die Oppenheimers en Ruperts wil die land se demokrasie kaap.
Malema sê as sy party nie die ANC vind nie, sal die EFF al sy burgemeesterskomiteelede onttrek waar hulle saam met die ANC in munisipaliteite en metro's sou saamwerk.
Hy eis ook dat Nkululeko Dunga, EFF-voorsitter in Gauteng, heraangestel word as burgemeesterskomiteelid vir finansies in Ekurhuleni.
Doctor Xhakaza, burgemeester van Ekurhuleni, het Woensdagaand vir Dunga die trekpas gegee. Die ANC en EFF is saam in 'n onstuimige koalisie in dié metro.
"As Dunga nie heraangestel word nie, sal ons al ons burgemeesterskomiteelede in Johannesburg, Nelson Mandelabaai en Ekurhuleni onttrek."
Ons het nie en sal nooit met die DA en enige regse Oppenheimer-gefinansierde politieke party vergader nie.
— Julius Malema, EFF-leier
Volgens Malema het die EFF met die leiers van progressiewe partye - die ANC, MK-party, UDM, ATM, Al Jama-ah en die PAC - vergader.
"Ons het nie en sal nooit met die DA en enige regse Oppenheimer-gefinansierde politieke party vergader nie. Die DA is ons vyand," sê hy.
"Hierdie regse en neoliberale partye verteenwoordig 'n reaksionêre, teenrevolusionêre en neokoloniale agenda wat daarop gemik is om die bestaande eiendomsverhoudinge in Suid-Afrika te beskerm waar die wit minderheid steeds die ekonomiese meerderheid bly."
Malema het wel een van sy voorwaardes laat vaar dat sy adjunk, Floyd Shivambu, minister van finansies word. Sy party eis ook nie ander kabinetsposte nie.
Malema sê sy party gaan kandidate vir speaker in die Nasionale Vergadering en in die provinsiale wetgewers voorstel asook komiteevoorsitters van die onderskeie portefeuljekomitees.
Vir die amp van NV-speaker stel Malema vir Veronica Mente, die EFF se nasionale voorsitter, voor. Sy is ook die EFF se kandidaat vir die pos van adjunkspeaker sou die ANC die speakerpos wil beklee. Shivambu se naam is voorgestel as voorsitter van die parlementêre staande komitee oor finansies.
"Ten spyte daarvan dat ons nie aan die kabinet deelgeneem het nie, het ons hom (Ramaphosa) gevra om die ANC te vra om ons kandidaat vir die speaker van die NV te ondersteun. In ruil daarvoor sal ons die ANC se kandidaat vir die presidentskap ondersteun."
Malema sê hy gaan nie homself vir enige pos beskikbaar stel nie.
Jy sal ons nooit op die verhoog sien baklei of teen enige uitsmyter veg nie.
— Julius Malema, EFF-leier
"Die EFF is nie desperaat vir poste nie."
Die party sal ook selfs 'n ander blaadjie omslaan as hy in die opposisiebankie is.
"Ons het besluit om nie ontwrigtend te wees nie. Jy sal ons nooit op die verhoog sien baklei of teen enige uitsmyter veg nie."
Malema sê hy eis 'n antwoord van die ANC teen Donderdagaand, anders stap hy en sy party weg.
"Ons bly oop vir 'n gesprek nou en in die toekoms wat op 'n regering sal uitloop wat nie die DA en VF Plus insluit nie."
Hy is oortuig daarvan dat MK die geleentheid gegee moet word om die provinsiale regering in KwaZulu-Natal te lei.
"Ons as die EFF sal alle prosesse ondersteun om die wetgewer daar te stel wat deur die MK-party gelei word."
Malema waarsku daar sal nie vrede in KwaZulu-Natal wees as die kiesers se wense nie gerespekteer word nie.




















