Verskeie paaie in Kaapstad gaan van Woensdagaand af gesluit wees met die oog op die eerste sitting van die parlement Vrydag in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks).
Die Kaapstad-metro se verkeersdiens raai motoriste aan om hul roetes goed te beplan en om waar moontlik die Foreshore-distrik in die volgende paar dae te vermy.
Die volgende paaie sal van Woensdag om 18:00 gesluit wees:

• Twee linkerbane van Walter Sisulu-laan by Laer Langstraat na Heerengrachtstraat. Net die regterbaan sal oop wees vir verkeer. Op Vrydag en Saterdag kan die baan ook gesluit word as dit nodig blyk te wees;
• Laer Langstraat is gesluit van FW de Klerk-boulevard tot by Walter Sisulu-laan;
• FW de Klerk-boulevard sal by Heerengracht gesluit wees, met slegs plaaslike toegang;
• Die linkerbaan langs Heerengracht, tussen die verkeersirkel in Walter Sisulu-laan tot by FW de Klerk-boulevard; en
• Die regterbaan by die MyCiti-depot langs FW de Klerk-boulevard.
Die linkerbaan op die verhoogde snelweg (N1) langs Kiks sal Vrydag van 09:00 gesluit wees.
Die paaie kan Saterdag ook gesluit wees as gevolg van die sitting van die Nasionale Raad van Provinsies.
Die paaie sal gesluit wees totdat die gebeure by Kiks afgehandel is.
• Stefani Terblanche is 'n Netwerk24-beursjoernalis.















