2024

Kille ontvangs wag vir DA

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

DA-ministers kan 'n kil ontvangs te wagte wees wanneer hulle dié week op hul eerste kabinet­lekgotla oor die beleid van die regering van nasionale eenheid (RNE) onderhandel.

Die kwessie van "genoegsame konsensus", soos vervat in klousule 19 van die verklaring van voorneme van die RNE, is glo die eerste struikelblok waaroor uitsluitsel gekry sal moet word.

Dié klousule bepaal dat partye wat gesamentlik 60% verteenwoordiging in die Nasionale Vergadering (NV) het, "genoegsame konsensus" oor beleidskwessies moet bereik. Dit beteken dat die ANC, met 40,1% van steun in die NV, nie sonder die DA, met 21,8% van steun in die NV, regeringsbesluite en -beleid kan bepaal nie.

Rapport verneem egter dat die ANC gaan redeneer dat hy op sy eie genoegsame konsensus in die kabinet het, en dus self regeringsbeleid kan bepaal. Die ANC se 22 kabinetslede maak 64,7% uit van die land se 34 kabinetslede (met die president en die adjunkpresident bygereken).

Die DA-plasing oor dr. Leon Schreiber, minister van binnelandse sake.
Die DA-plasing oor dr. Leon Schreiber, minister van binnelandse sake.

Pres. Cyril Rama­phosa het juis in aanloop tot die ondertekening van die verklaring van voorneme probeer om stilletjies die 60%-perk tot 50% te verlaag. Dit het amper die ondertekening van die dokument verongeluk, met die DA wat daarteen vasgeskop het.

Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, het reeds Donderdag op 'n mediakonferensie gemaan dat partye in die RNE nie op hul eie kan besluit watter beleid kabinetslede in werking moet stel nie. "(D)it werk nie só nie. Daardie besluite sal slegs op die lekgotla van die kabinet geneem word," het Ntsha­vheni gesê. Die lekgotla vind na verneem word Donderdag en Vrydag plaas.

Volgens Ntsha­vheni word alle RNE-partye se verkiesingsmanifeste oorweeg, maar dit sal moet voldoen aan die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan van 2012.

Die presidensie het duidelik aanstoot geneem omdat die DA mediaverklarings uitgereik het wat van hul kabinetslede se eerste daadwerklike optrede geprys het. Een verklaring het Dean Macpherson, DA-minister van openbare werke en infrastruktuur, se besluit uitgelig om geen nuwe kantore, huise of meubels aan te skaf vir kabinetslede nie, maar dat dié geld eerder vir infrastruktuurprojekte gebruik moet word. Luidens nog 'n verklaring het dr. Leon Schreiber, DA-minister van binnelandse sake, besluit om 'n tydelike vergunning vir buitelanders met langtermynvisums te verleng, met die gevolg dat mense wat aansoek gedoen het om werk- of studievisums te verleng, nog ses maande in Suid-Afrika mag aanbly.

Die presidensie het toe Vrydag 'n kort verklaring uitgereik wat lui dat "(n)oudat ons die RNE is, is daar geen ANC- of DA- of enige ander partyprogram nie, maar 'n aksieplan van die regering".