Die DA het vir die eerste keer aangedring dat sy leier, John Steenhuisen, adjunkpresident word.
Rapport verneem dié eis is gister gerig op 'n warm vergadering tussen die DA en die ANC.
Die DA is briesend omdat die ANC hom net drie kabinetsposte aangebied het. Voor die jongste rusie was die DA tevrede daarmee dat Steenhuisen bloot 'n senior kabinetspos soos leier van regeringsake kry.

"Die party (DA) is woedend oor die arrogante manier waarop die ANC die onderhandelinge benader het. Hulle ondermyn die uitslag van die verkiesing deur te weier om mag te deel met opposisiepartye," beweer Rapport se bron.
"Kiesers het duidelik aangedui dat hulle wil sien dat mag gedeel word, maar al wat ons (die DA) tot dusver gehoor het, is dat die ANC klein partye 'n handvol adjunkministersposte wil gee, terwyl daar vir die DA drie kabinetsposte aangebied word."
Oor die adjunkpresident-eis het die bron verduidelik: "Die ANC het vir ons gesê dat hulle geregtig is op die ampte van president en speaker omdat hulle die grootste party in die RNE is. Met daardie selfde logika moet die DA dan die pos van adjunkpresident vir ons leier kry omdat ons die tweede grootste party is. Dit is die norm oor die hele wêreld."
Volgens die bron sal die DA sy steun vir die ANC-premiers in sowel KwaZulu-Natal as Gauteng onttrek indien die ANC weier om mag te deel.
Die DA het selfs oorweeg om uit die RNE te onttrek, maar daar is ooreengekom dat die lyne van kommunikasie oop sal bly. Onderhandelinge duur vandag voort.
DA-bronne glo die ANC se aanbod van so min kabinetsposte is deel van 'n set van die ANC om die DA se invloed in die RNE te verwater.
LEES OOK | RNE sal nie inmekaar stort as die DA onttrek nie, sê ANC se hoofsweep
Rapport verneem dat die DA graag die volgende portefeuljes wil bestuur:
• kommunikasie en digitale tegnologie;
• handel en nywerheid;
• vervoer;
• staatsdiens en administrasie;
• water en sanitasie;
• plaaslike regering; en
• gesondheid.
Die DA wou glo ook aanspraak maak op die adjunkministersposte van finansies en gesondheid.
Volgens die RNE-ondernemingsdokument moet die partye se getal setels in die Nasionale Vergadering (NV) "breedweg" in ag geneem word wanneer die president sy kabinet saamstel.

Die ANC het glo Vrydagaand vir die DA laat blyk dat hulle drie poste kan kry. Daar is in die verlede aangedui dat die ANC bereid is om afstand te doen van die portefeuljes van water en sanitasie, energie, plaaslike regering en handel en nywerheid.
Volgens ANC-bronne, wat op voorwaarde van anonimiteit praat, kan hulle nie die DA tegemoetkom met sewe poste nie.
"Ons het vir elkeen van die partye wat by die RNE aansluit 'n kabinetspos beloof. Dis dan reeds minstens sewe partye waarvan die leiers moet poste kry en los vir ons maar met 15 of so poste oor," het 'n ANC-bron gister gesê.
Die bron wys daarop dat die ANC se alliansievennoot, die SAKP, ook ingesluit sal moet word.
Boonop is ses lede van die vorige kabinet nie weer tot die parlement verkies nie. Hulle is: dr. Naledi Pandor (internasionale betrekkinge), Bheki Cele (polisie), Thandi Modise (verdediging), Lindiwe Zulu (maatskaplike ontwikkeling), Thulas Nxesi (arbeid) en Noxolo Kiviet (staatsdiens en administrasie). Ramaphosa kan slegs twee kabinetslede kies wat nie as LP's ingehuldig is nie. Hy oorweeg glo om vir Pandor en Modise te vra om terug te keer.
Ramaphosa moet 'n adjunkpresident, 31 ministers en 36 adjunkministers aanwys. Paul Mashatile sal na verwagting terugkeer as adjunkpresident.
Dit is nie duidelik of ander partye al aangedui het watter poste hul sal wil beklee nie.
Gayton McKenzie, PA-leier, het reeds aangedui dat hy sy oog het op die ministerskap van óf binnelandse sake óf die portefeulje van polisie.
Die verwagting is glo dat Patricia de Lille, Good-leier, kan terugkeer as minister van toerisme.
Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het verlede week aan Rapport aangedui dat sy party tevrede sal wees met die voorsitterskap van twee portefeuljekomitees, maar daar is ook partylede wat glo druk vir 'n ministerskap.
'n Aankondiging kan vanaand kom, maar sal op die laatste glo môre gebeur.


















