"Suid-Afrika is nou beter."
Dít is wat die samewerking tussen die verskillende partye in die regering van nasionale eenheid (RNE) volgens Panyaza Lesufi, herverkose premier van Gauteng, die afgelope paar dae gedemonstreer het.
Lesufi het Saterdag só tydens die eerste sitting van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum gesê toe hy namens sy provinsie vir Refilwe Mtsweni-Tsipane gelukgewens het met haar verkiesing as NRP-voorsitter.

Die samewerking tussen hoofsaaklik die ANC, DA, IVP en die PA in die RNE het ook Mtsweni-Tsipane se onbestrede verkiesing as voorsitter moontlik gemaak. Sy is die voormalige premier van Mpumalanga.
Kenny Mmoiemang (ANC), 'n afgevaardigde van die Noord-Kaap, is ook onbestrede as NRP-hoofsweep verkies tydens dié sitting waarin hoofregter Raymond Zondo ook eers die 54 nuwe provinsiale afgevaardigdes van die NRP beëdig het.
Die nuwe RNE het Vrydag ook sy eerste toets geslaag toe hy tydens die eerste sitting van die Nasionale Vergadering (NV) ook vir pres. Cyril Ramaphosa as staatshoof herverkies het.
Thoko Didiza van die ANC en dr. Annelie Lotriet van die DA is daartydens ook as onderskeidelik nie nuwe speaker en adjunkspeaker van die NV verkies.
Die samewerking tussen die RNE-vennote het ook 'n rol gespeel in Lesufi se verkiesing as Gautengse premier Vrydag, sowel as in die verkiesing van Thami Ntuli van die IVP as KwaZulu-Natalse premier.
Die NRP vorm saam met die NV die twee afdelings of huise van die parlement. Dit verteenwoordig die provinsies om te verseker dat provinsiale belange ook in die nasionale regeringsfeer en wetgewende prosesse in ag geneem word. Elke provinsie het ses permanente en vier spesiale afgevaardigdes in die NRP.
Intussen het Mtsweni-Tsipane in haar aanvaardingstoespraak gesê dat sy die amp van NRP-voorsitter met "groot nederigheid en 'n diepe voorneme om julle vertroue te eer", aanvaar.
"Terwyl ons hierdie kritieke fase betree van die bevordering van kernbeleidslewerings oor die lengte en breedte van ons geliefde Suid-Afrika, moet ons gesamentlik daarna streef om saam met al ons belanghebbendes te werk om die ontwikkelingsuitdagings van die nasie te takel.
"Ons moet ook gesamentlik daarna streef om te verseker dat hierdie nuwe era van transformasie en impak-gedrewe toesighouding ons mense sal bevoordeel soos gelei deur die verkiesingsmandaat van die huidige bedeling."
Lesufi het verder in sy boodskap van gelukwensing gesê dat dit nou die RNE se taak is die skepping van 'n beter Suid-Afrika te versnel. "Ons word ook vertel dat in die nuwe toekoms dit nie die grote is wat die kleine sal verslaan nie, maar eerder die vinniger wat die stadige sal verslaan. Ons taak is om vinniger te beweeg om ons mense te dien."
Rikus Badenhorst (DA), permanente afgevaardigde van die Wes-Kaap, het in sy gelukwensingsboodskap gesê dat die Wes-Kaapse wetgewer daarna uitsien om sy rol te speel as 'n integrale deel van die RNE-projek om Suid-Afrika te red. "Baie werk moet gedoen word. Kiesers in Suid-Afrika het gepraat en ons verantwoordelikheid in die NRP is om gehoor te gee aan hul oproep vir eenheid in regering."
Mmoiemang het in sy aanvaardingstoespraak onder meer gesê dat die regruk van die sukkelende plaaslike regeringstelsel (munisipaliteite) een van die kritieke toetse moet wees waarteen die sukses van die NRP in die nuwe parlementêre termyn gemeet moet word.
Moloto Mothapo, die parlement se woordvoerder, het ná die sitting in 'n verklaring gesê die NRP se adjunkvoorsitters en ander amptenare sal in 'n latere stadium verkies word.





















