Athol Trollip, voormalige uitvoerende burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, is tot ActionSA se koukusleier in die Nasionale Vergadering (NV) verkies.
Herman Mashaba, ActionSA-leier, sê Woensdag in 'n verklaring Trollip se ervaring en leierskap is presies wat nodig is vir ActionSA om 'n deurslaggewende rol as opposisie te speel wat die regering verantwoordbaar hou.

Volgens Mashaba is die rol van die opposisie "in die gedrang" weens ander opposisiepartye wat betrokke is by onderhandelings om saam met die ANC te regeer.
Die ANC het 'n "rekord van korrupsie en wanbestuur".
"Geen party wat poste ontvang, asook die voorregte en byvoordele wat daarmee gepaard gaan, kan die regering aanspreeklik hou nie," sê Mashaba.
ActionSA stuur ses LP's na die NV nadat dié party 1,29% van die nasionale steun in die afgelope verkiesing op hom verenig het.
Dit was die eerste keer dat ActionSA sy staal in 'n algemene verkiesing getoets het nadat die party in 2021 die eerste keer aan plaaslike verkiesings deelgeneem het.
Ons sal onsself onderskei deur 'n opbouende opposisie te wees wat verseker dat elke besluit en stem in die beste belang van Suid-Afrikaners is.
— Athol Trollip
Mashaba en Michael Beaumont, ActionSA-voorsitter, tel nie onder die LP's wat parlement toe gaan nie omdat hulle eerder daarop wil fokus om die party vir die munisipale verkiesing in 2026 gereed te kry.
Trollip sê in die verklaring die koukus van ActionSA sal bo verwagting moet presteer om die mense van Suid-Afrika te dien en sy teenwoordigheid te laat geld.
"Ons sal onsself onderskei deur 'n opbouende opposisie te wees wat verseker dat elke besluit en stem in die beste belang van Suid-Afrikaners is."
ActionSA moet volgens Trollip nou sy nuwe platform in die nasionale politieke arena as 'n vastrapplek gebruik.
Trollip is 'n voormalige lid van die Oos-Kaapse wetgewer.
Hy het in 2019 as DA-voorsitter bedank voordat hy hom by ActionSA aangesluit het.





















