Verkiesings

Wes-Kaap is ons s'n, sê DA

Hoewel nog net 25% van die stemme Donderdag teen 09:00 getel is, glo die DA sterk dat hy die Wes-Kaap sal behou.

Jonathan Moakes, die party se nasionale verkiesingsveldtogbestuurder, sê hoewel dit nog baie vroeg in die proses is, is sy party "versigtig optimisties" oor wat sy uiteindelike prestasie in vanjaar se verkiesing sal wees.

"Ons is egter op pad om die Wes-Kaap te behou. In Gauteng is dit nog te vroeg om 'n voorspelling te maak oor wie daar gaan wen."

Hy meen egter die DA staan sterk wat nasionale steun betref.

"Daar is nog baie stemdistrikte waar uitslae nog bekend gemaak moet word. Ons is egter tevrede met hoe dinge verloop," sê Moakes.

DA-leier Mmusi Maimane, Phumzile van Damme en Alan Winde, die DA se premierskandidaat vir die Wes-Kaap Woensdag op die DA-bus in Athlone, Kaapstad. Foto: Jaco Marais
DA-leier Mmusi Maimane, Phumzile van Damme en Alan Winde, die DA se premierskandidaat vir die Wes-Kaap Woensdag op die DA-bus in Athlone, Kaapstad. Foto: Jaco Marais