In 1977 verskyn Marlene van Niekerk se debuutbundel onder die titel Sprokkelster. Daar kom ek toe weer die bespreekte vers teë, getitel “ek weet vanaand”. Sy was dus die teiken van daardie onskuldige stukkie kritiek. In die klas destyds het sy nie met ‘n enkele teken laat blyk dat dit haar gedig is nie.

Opperman het van sy siekte herstel en op triomfantelike wyse daarvan verslag gedoen in sy bundel Komas uit ‘n bamboesstok van 1979. En, jouwaarlik, daar tref ek ’n vers met die titel “Maraispark” aan. Daarin beskryf hy hoedat hy tydens sy herstelproses die aarde soos ‘n kind as ’t ware van nuuts af moes leer ken. En die aarde was vir hom aanvanklik beperk tot Stellenbosch en die Boland. In die gedigreeks “Grondstowwe by die siklus van seisoene” sê hy onomwonde: “daar is geen ander dorp soos Stellenbosch!”





















