Eiers

Franse omelet (en variasies)

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
  • 4 eiers
  • 60 ml (4 e) water
  • 2,5 ml (½ t) sout, of na smaak
  • 1 ml (¼ t) peper, of na smaak
  • 30 ml (2 e) botter

1. Klits die eiers tot goed gemeng.

2. Voeg die water, sout en peper by.

3. Maak die pan goed warm oor matige hitte en smelt die botter daarin.

4. Giet die eiermengsel in die pan, verlaag die temperatuur en laat oor lae hitte gaar word.

5. Sodra die mengsel begin stol, lig dit effens op aan die rande sodat die rou eier onderkant inloop en gaar word. Moenie die omelet roer of breek nie.

6. As die omelet dik en romerig lyk, vou dit toe. Enige van die variasies hieronder kan as vulsel gebruik word.

7. Laat dit op 'n warm bord afgly en dien dadelik op.

Variasies

• Strooi gerasperde kaas met 'n skerp geur, bv. cheddar of gruyère, oor die omelet net voordat dit toegevou of terwyl dit gebak word.

• Strooi gerasperde biltong of gekapte gaar spek oor net voordat die omelet toegevou word.

• Voeg 15 ml (1 e) gaar fyngekapte ui en 5 ml (1 t) fyngekapte pietersielie of ander kruie, bv. tiemie, grasuie of origanum, by die mengsel voordat dit gebak word.

• Sny ham of enige soort koue vleis of gaar hoendervleis fyn en verhit of braai effens bruin in warm botter of olie. Strooi oor die middel van die omelet terwyl dit gaar word.

• Meng enige soort gaar groente soos ertjies, eiervrug, groenmielies, blomkool, brokkoli, murgpampoentjies, sampioene, ens. met 'n Witsous* en gebruik as vulsel vir die omelet.

• Verdik Italiaanse tamatiesous* deur dit sonder 'n deksel te laat prut tot dit ingedamp het en so dik soos blatjang is. Skep in die middel van die omelet voordat dit toegevou word.

• Maak enige gaar vis fyn, voeg sout en peper na smaak by en roer 'n bietjie room by. Verhit die vis en skep op die omelet net voordat dit toegevou word.

• Voeg 5 - 15 ml (1 - 3 t) gekapte pietersielie of ander kruie van jou keuse by die eiermengsel.

•Skep geroosterde groente en enige kaas van jou keuse, bv. pecorino, feta of ricotta by. Gesnyde pikantrissies kan ook bygevoeg word.

Klik en koop die boek

* TAKEALOT

* EXCLUSIVE BOOKS

CTA