As ’n vriendskap versuur: ‘Dis net so traumaties soos skei of die dood’

Dis moeilik om te erken wanneer ’n vriendskap sy vervaldatum bereik en dit kan moeilik wees om te verwerk.
Dis moeilik om te erken wanneer ’n vriendskap sy vervaldatum bereik en dit kan moeilik wees om te verwerk. (Foto: Gallo Images/Getty Images)

’n Eens hegte vriendskap wat stadigaan besig is om weg te kwyn, kan ’n traumatiese ervaring wees wat ’n mens baie moeilik verwerk. Ons gee raad.

As jy deur ’n egskeiding gaan, kan jy kies en keur tussen boeke met raad oor hoe om die seerkry te verwerk. As jou romantiese verhouding op die rotse beland, het elke tweede mens raad vir jou stukkende hart. Maar wat gebeur as jy en jou beste vriend of vriendin van mekaar vervreemd raak en die vriend-skap wat jou oor die jare soveel vreugde gegee het, doodloop?

Omtrent almal van ons het al so iets beleef, maar tog hoor ’n mens nooit dat iemand raad het vir dié soort seerkry nie. Dis al langer as sewe jaar sedert Jayden* en haar vriendin uitmekaargedryf het, maar sy voel steeds seer en bitter daaroor. “Ek en Shantel* was van ons kollege-dae af onafskeidbaar en het baie herinneringe saam geskep en mekaar ondersteun. Tot ek getrou het.”

Jayden vertel terwyl haar fokus op haar nuwe lewensfase en ma-word was, het Shantel die loopbaanleer geklim. Hul veranderende prioriteite en leefstyle het die vriendskap laat doodloop. “Dis eintlik hartseer dat dit gebeur het toe ons nog nie die emosionele volwassenheid gehad het om net ’n gesprek daaroor te voer nie. Dit sou dalk minder resentment en hartseer veroorsaak het as ons net met liefde saam kon besluit ons hoofstuk in mekaar se lewe is verby – sonder die gevoel dat ons skielik niks meer vir mekaar voel nie.”

Toe hulle mekaar sowat ’n jaar terug toevallig in ‘n mall raakloop, het Shantel haar so half ingedagte met ’n “Haai, hoe gaan dit?” gegroet, en tussen die skare in verdwyn.

“Ek dink nie ons samelewing neem die impak van ’n vriendskap ernstig genoeg op nie. Die ideaal van trou en kinders kry laat dit soms voel asof vriendskappe altyd agtertoe geskuif moet word daarvoor, asof dit nie saam kan co-exist nie.

“En dan, aan die ander kant, weet baie min mense hoe om ’n vriendskap te laat vaar deur ’n volwasse gesprek te hê daaroor. Soos hulle sê: Party mense is in jou lewe ‘for a season, a reason or a lifetime’. En dis oukei.”

Jy moet besef dit is nie jy wat sleg is nie. Daar is nie iets met jou verkeerd nie. Die ander mens het bloot met hul lewe aangegaan.

—  Izak Malan, sielkundige

Ja, dit maak seer

Dink jy soms met hartseer terug aan ’n vriendskap wat gesneuwel het? Dan is jy nie alleen nie. Die einde van ’n hegte vriendskap kan netso traumaties wees soos ’n egskeiding of die dood, sê Izak Malan, ’n sielkundige wat in menseverhoudings spesialiseer. “Dit kan selfs intense emosies soos woede, depressie en angs ontketen”, asook ’n vrees vir ’n toekoms waarin jy sonder jou boesemvriend sal moet klaarkom.

Mense soek dikwels die fout by hulself en wonder wat hulle verkeerd gedoen het, sê Izak. “Maar jy moet besef dit is nie jy wat sleg is nie. Daar is nie iets met jou verkeerd nie. Die ander mens het bloot met hul lewe aangegaan.”

En moenie die fout maak om te dink dis net een geslag wat rou as hul vriendskap eindig nie. Mans en vroue kry ewe seer as hulle dié soort teleurstelling beleef, sê Izak.

Gerrit Potgieter, ’n leefstylafrigter en traumaberader, sê dit is natuurlik om teleurgesteld te wees as ’n baie hegte vriendskap in die hek duik. “Maar teleurstellings is deel van die lewensreis. Dit gebeur met almal.”

Sommige mense bly ’n paar jaar in jou lewe, ander net ’n uur. “Maar elkeen wie se pad joune kruis, is met ’n doel daar geplaas. By elkeen kan jy iets leer, al gesels julle net ’n uur lank. Onthou, in elke mens is ’n lewensles opgesluit, en dis jou verantwoordelikheid om daardie lesse raak te sien en met jou saam te neem.”

Ai, die bitterheid . . .

Dis goed om te vergewe, sê Izak. “Sonder vergifnis kan jy ’n lewenslange wrok ontwikkel wat van jou ’n verbitterde, negatiewe mens gaan maak.”

In sy praktyk laat Izak sy kliënte die volgende ritueel doen: Skryf op ’n stuk papier ’n brief vir die een wat jou seergemaak het. Sê hoe jy voel. Moet niks terughou nie. Tydens dié proses mag jy ook uiting gee aan jou emosies deur te huil. Beskryf dit in jou brief. Sluit dan af deur vir die mens te sê: “Ek vergewe jou en laat jou vry.” Verbrand dan die brief.

Gerrit beaam dis belangrik om met jou lewe voort te gaan. “As jy vasgevang word in ’n diep put van teleurstelling, sál dit jou gedagtegang oorheers.”

Pleks van vir jou eks-vriend kwaad te wees, kan jy probeer fokus op wat jy oor die jare uit die vriendskap geleer het, en hoe dit jou ’n beter mens gemaak het. Dit sal jou die boustene gee vir nuwe vriendskappe, verduidelik hy.

Die vyf l’e

Hou die volgende vyf L-woorde in gedagte as jy wil aangaan met jou lewe en nuwe vriendskappe beter wil bestuur, sê die motiveringspreker Shoni Khangala.

1. Liefde

Wees onvoorwaardelik lief vir jou vriende sodat daar geen onrealistiese verwagtings is nie. Wanneer jou vriende nie aan jou verwagtings voldoen nie, lei dit tot konflik en kan dit die vriendskap kelder. As jul paaie wel sou skei, sal liefde help dat jy nie ’n wrok koester nie.

2. Leef voluit in die vriendskap

Dit vestig sterker bande tussen julle, maar sorg ook vir minder verwyte wanneer julle mekaar dalk later nie meer so nodig het op jul onderskeie lewenspaaie nie.

3. Luister

Monitor jou vriendskap voortdurend deur te let op jul gesprekke en die ander mens se liggaamstaal. Dit sal jou help om probleme tussen julle vroeg reeds te identifiseer en op te los. Sou julle wel uitmekaargaan, sal dit jou nie so onkant vang nie.

4. Leer

Hoekom het jy en jou vriend uitmekaargedryf? Het jy dalk iets verkeerd gedoen of gesê? As jy uit elke konflik-situasie iets kan leer, sal dit jou help om nie vorentoe dieselfde foute met ander vriendskappe te maak nie.

5. Laat gaan

As jy niks meer kan doen om die vriendskap te red nie, laat gaan. Moenie vasklou nie.

* Skuilname

Algemene wenke

Ons kenners gee die volgende algemene wenke oor hoe jy dit kan verwerk as jy en jou bestie se paadjies uitmekaarloop:

  • Moenie op die mens spioeneer deur byvoorbeeld elke dag na sy of haar social media te kyk nie; dit kan jou van voor af bitter maak as jy sien hoe hulle met ander sosialiseer.
  • Kry die steun van familie en ander vriende en deel jou emosies met hulle.
  • Bring eerder tyd deur saam met iemand wat wel saam met jou wíl wees, eerder as om oor verlore vriendskap-pe te tob.
  • Wees baie versigtig vir ontvlugtingsmiddels soos drank en dwelms.
  • Koester die goeie tye en lekker dinge wat julle gedeel het.
  • Laat jouself toe om te rou. Moenie die vergane vriendskap ontken nie, maar aanvaar jou emosies en huil daaroor voor jy die verlede agter jou sit en aangaan met jou lewe.

SPELETJIES VANDAG

CTA