In 'n veranderende wêreld met baie swaarkry, het ons soms nodig om net stil te raak en mekaar raak te sien.

'n Lawaai maak my een Donderdagoggend wakker. "Dis myne!" skree een. Die ander sê: "Nee, ek was eerste hier!" Met die uitkykslag sien ek 'n man en 'n vrou aan die baklei oor kos by die vullisdrom. Ek pak altyd die kos netjies en sit dit daar neer, maar nou sien ek hoe hulle met desperaatheid stry oor wat daar lê.
My hart breek - dis iemand se ma of pa. Hulle veg nie uit woede nie, maar moegheid. Nood. Ek het woordeloos gesit en wonder wanneer dinge só erg geraak het dat mense baklei oor weggooikos?
Almal kry swáár. Mense kan net nie meer die lewe bekostig nie. Ons leef van die hand tot die mond. Ek is tans 'n student met 'n beurs, en ek is ongelooflik dankbaar. Maar toe ek onlangs met 'n vriendin gesels en sy sê dat selfs 'n blikkie spray deesdae 'n luukse is, het dit my getref: Dis nie meer 'n basiese behoefte nie - ons dink aan kos, oorlewing.
Mamma kan nie meer geld stuur nie. By die huis moet elke gaatjie gestop word. Hulle werk hulself moeg om vir my 'n kans op 'n beter toekoms te gee. En dan kom dié boodskap van die huis af: "Koop asseblief R10 se krag - net vir lig." R10 koop omtrent net twee eenhede. En omdat ek nie sommer vra nie, dink ek dadelik aan die trots wat gesluk moes word om daardie versoek te stuur . . . Desperaatheid is nou die norm.
My gedagtes vlieg terug na daai oom en antie wat ek daai oggend sien baklei het oor kos. Hoeveel keer moes hulle vra? Hoeveel keer moes hulle hul tot ander wend vir hulp totdat hulle moed opgegee het, of alles net te veel geraak het? Desperaatheid breek 'n mens. En dit breek ook my hart wanneer ek 'n ouma sien met haar vier kleinkinders en sy sê: "Ek is moeg, moeg, moeg."
En dis nie net mense sonder werk of opleiding nie. Dis onderwysers. Verpleegsters. Bewaarders. Polisiebeamptes. Dié wat elke dag opstaan en probeer, voel nou die gewig van die lewe. Ek is tans besig met praktiese onderwys en die opvoeders sê hard en duidelik: "Ons is moeg. Ons kom nie uit nie. Als is net té duur." Jy kan nie help om te wonder nie: Waarheen is ons land op pad? Waarheen gaan die lewe met ons?
Behalwe vir die finansiële swaarkry, sukkel ek emosioneel ook, en ek weet daar is ander wat seker hiermee kan identifiseer. Daar is die dae wanneer ek sterk voel - ek's reg vir die wêreld. Maar dan kom daar dae wat ek nie eens kan opstaan nie. Ek huil myself stukkend, sonder om te weet hoekom.
Ek wil met niemand praat nie, en dit frustreer my, want ek verstaan dit self nie. Dis asof ek onverklaarbaar leeg is.
Ek het begin terugdink om te probeer verstaan wat my só laat voel, en toe besef dit gebeur gewoonlik wanneer ek vir lank in oorlewingmodus is. Go-go-go. Opdaag-opdaag. Aanhou en aanhou. Totdat ek breek, en dan volg daardie relapse; daardie afgrond waarin ek net nie meer kan nie.
Om elke dag die lewe te kies, is brutaal. Maar dis ook braaf. En ek salute elkeen wat elke oggend opdaag. Wat aanhou, selfs met 'n stukkende hart. Ek kyk altyd rond op kampus en kan sien as iemand swaar dra.
Laas jaar het ek baie aande laat by die biblioteek gebly. En daar het ek 'n meisie ontmoet. Sy't ook laat gesit - nie altyd om te leer nie, soms net om daar te wees. Stil. Alleen. Ek het vir haar geglimlag sodat sy kon weet: Ek's hier. Jy's nie alleen nie. Soms het ons nie antwoorde of woorde nie. Soms het ons net iemand nodig wat dáár is. G'n woorde nie. G'n dade. Net wees.
In 'n wêreld waar als net vinniger, harder en duurder beweeg, en dit soms voel ons het geen beheer nie, is daar íéts wat nog oorbly: Ons menswees. Ons het steeds die vermoë om iemand anders se sagte plek te wees, al het ons sélf geen veilige plek nie.
Dis belangrik om in dié chaos soms net stil te sit. Te kyk. Te voel. Want dan kan jy nood raaksien wat ander miskyk. Jy kan ‘n gebroke siel sien agter hul glimlag. Ja, jy kan nie oral help nie, maar elke saadjie van goedheid, hoe gering ook al, dra lewe. Dis nie altyd groot gebare wat saak maak nie. Soms is dit 'n bord kos, 'n stil teenwoordigheid, oogkontak wat sê: "Ek síén jou."
Ek het met klomp meisies in 'n studente-huis gebly. Hulle sou kosmaak, saam eet, lag, maar nie raaksien een van ons het nog nie daai dag geëet nie. Dan vra ek myself: Waar is die menslikheid? Het dit regtig elkeen vir homself en God vir almal geword?
Want as dít die geval is, het ons nodig om wakker te skrik. Om weer mens te raak. Vír mekaar. Mét mekaar. En ín mekaar.

















