Van vroeg af bestaan daar 'n tradisie van stilte in die kerk. Eeue lank het mense graag die eensaamheid van woestyne, kloosters en grotte opgesoek. In stilte en afsondering wou hulle daar die stem van God hoor.
Volgens 'n vroegkerklike verhaal het aartsbiskop Teofilus juis op 'n dag besoek gebring aan 'n monnik genaamd Pambo wat in afsondering gebly het. Toe vra die mense Pambo om 'n opbouende woord met die aartsbiskop te deel. Sy antwoord was: "As hy nie opgebou word deur my stilte nie, sal hy nie opgebou word deur my woorde nie."
Inderdaad is stilte lewensbelangrik. Tog is die kerk van die begin af geanker in onderrig. Van dag een af het hulle hulself toegelê op die leer en onderrig van die apostels (Handelinge 2:43). Onderrig is nog altyd een van die basiese gawes van die Gees (Efesiërs 4:11).
Paulus verstaan dit ook so wanneer hy vir Timoteus skryf om mense te dien met die regte leringe oor Christus: "Jy moet hierdie dinge vir gelowiges leer. Dan sal jy 'n goeie bediende van Christus Jesus wees. Dan sal jy goed geoefend wees in die inhoud van die geloof wat ons verkondig, asook in die goeie leringe wat jyself getrou navolg" (1 Timoteus 4:6 NNT).
Onderrig verskaf die regte inhoud en begronding vir stilte. Trouens, gesonde geloofsonderrig begelei ons gedurig tot groter stilte en nadenke in die Here se teenwoordigheid. Dit maak dat ons sy goeie Woord dag en nag wil oordink (Psalm 1). So leer ons reg, en so raak ons reg stil.
Uit die Woord
Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak. - Psalm 1:1-3


















