Aktueel

Omroeper Bill Sharp (84) oorlede

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die radioman Bill Sharp (84), wat Saterdag oorlede is.  Foto: Verskaf
Die radioman Bill Sharp (84), wat Saterdag oorlede is. Foto: Verskaf

Bill Sharp (84), 'n groot gees in die uitsaaibedryf, is Saterdagmiddag dood.

Sharp het in Westdene, Johannesburg, gewoon. Sy vriendin, Elize Ford, 'n musiekregisseur, was by hom ten tyde van sy afsterwe.

Volgens Sharp se vriend en oudkollega Tinus Esterhuizen, 'n eertydse omroeper, pianis en orrelis, het hy baanbrekerswerk as programbestuurder op die gebied van gehalte-uitsendings verrig.

"Ons paaie het in die sewentigerjare gekruis toe Bill 'n omroeper by Radio Hoëveld was en 'n gewilde versoekprogram asook 'n klassieke program aangebied het," sê Esterhuizen.

Sharp was ook 'n publisiteitsbestuurder van Ster-Kinekor en het later as programbestuurder by Springbokradio aangesluit. In 1985 het Sharp saam met Leslie McKenzie die laaste uitsending vir Springbokradio gedoen. Daarna was hy 'n programbestuurder by Radio Orion.

Volgens Esterhuizen het Sharp 'n fluweelstem gehad. Hy kon ook goed orrel en klavier speel.

"Ek sal hom onthou as 'n superslim en snaakse mens en 'n mens kon skaterlag vir sy pittige sêgoed.

"As musikant het hy die allerpragtigste klassieke liedjies op die klavier opgetower, sowel as op sy huisorrel."

CTA