Boeke

Pirow Bekker (89) sterf

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pirow Bekker in 2013.  Foto: Theana Breugem
Pirow Bekker in 2013. Foto: Theana Breugem

Die digter en skrywer Pirow Bekker (89) is Woensdagaand in die Kloof-hospitaal in Pretoria dood.

"Dit was komplikasies weens 'n heupbreuk," sê sy skoondogter Emma Bekker, digter en skrywer.

"Hy moes chirurgie kry en van daar het dinge net agteruitgegaan. Hy was omtrent 'n maand lank in die hospitaal."

Bekker sou in Desember 90 geword het en sy jongste digbundel, Die bloei van blomme, verskyn eersdaags by Naledi.

Hy is ook een van die digters wie se werk opgeneem is in die poësiebloemlesing Merang, wat deur Neil Cochrane en Alwyn Roux saamgestel is ter viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike taal.

In Bekker se boek Beurtelinge, wat in 2022 by Hemel & See Boeke verskyn het, skryf hy onder meer oor sy vrou, Annatjie, se stryd met demensie.

Bekker is op 9 Desember 1935 op Smithfield in die Vrystaat gebore en het onder meer op die plaas Suidoostebank in die distrik Reddersburg grootgeword - die plek wat hy as die paradys beskou het. Later het die gesin in die omgewing van die Winterhoekberge in die Oos-Kaap gewoon. Hy het in Smithfield gematrikuleer.

As die derde van vier seuns (al sy broers is al dood) het hy wel nie in 'n huis met boeke grootgeword nie. Hy het op die tydskrif Die Brandwag ingeteken.

Een of twee maal per week was daar 'n uitgawe van die Volksblad.

Bekker het sy meestersgraad oor die kwatryn gedoen.

In Beurtelinge vra sy vrou hom waarom hy nog skryf.

Dan antwoord hy: "Ek is maar soos 'n ou skemaboer wat sy leibeurt die dag laaste gekry het en nou probeer hy in die skemer 'n paar laaste akkers op sy erf nat kry voor die waterfiskaal sy sluis toesteek."

Bekker word deur sy vrou, drie kinders, agt kleinkinders en vyf agterkleinkinders oorleef.

LEES OOK | Pirow Bekker gaan op herinneringsreis in nuwe boek

- aj.opperman@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM